Thula-thula (afr) (27 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

BOOK: Thula-thula (afr)
10.53Mb size Format: txt, pdf, ePub

Abel huil en slaan na sy papa; smyt homself langes sy broertjie neer. Ek sien die ouman haal sy belt af

en skree op Abel oor iets van slaan na jou pa. Ek roep saggietjies na iNkosi. Ek sien Abel se broek is nat.

“Vat hierdie tjankbalie weg,” brul die ouman deur sy beskyte lippe, “en sluit hom in die

buitelewwetrie toe! Ek wil die verdomde bobbejaan wegsleep!”

“Pa is ’n vark! Pa is ’n vark!” roep Abel deur sy eie snot.

Toe die belthou oor Abel se rug val, loop ek tussenin. Tel die tjint op en dra hom weg. Ruk ’n broek

van die wasdraad af. Loop verby die putlewwetrie en die peperboom, tot agter die sementdam. Trek die

nat broek uit en sê hy moet sy voete by die droë broek se pype insteek.

Ons is al twee rooi van bobbejaanbloed.

iNkosi, sê vir my wat moet ek doen, sê vir my …

iNkosi antwoord nie.

Ek sit met die tjint teen my, en wis nie of dit ek of hy is wat so bewe nie. Ek beginte hom wieg; sing ’n

lied van my tata se kerk.
Sendiya vuma, Sendiya vuma, Somandla … Stuur ons Here, stuur ons Here, in

u Naam …
Ek wis nie wát die Here ons moet stuur nie, en of Hy óns dalk iewerster wil stuur nie. Ek sing

net.
Sendiya vuma … Stuur ons Here …

Die trekker dreun. Abel wil stuipe vat. Ek hou hom vas en sing.

Agter donker kom sê Samuel Abel moet inkom, sy papa wil boekevat. Waar vat ék ampers stuipe.

Boekevat? Wyl hy sy tjint se hart moedswillig in stukkietjies geskiet het?

Laat ons loop, Thandeka, sê Samuel.

Abel wil nie loop nie, sy bene swik. Toe abba Samuel hom. Ek loop met voete wat voel of daar klippe

aan hulle vasgebind is. Ek luister hoe Samuel sing vir die tjint op sy rug.

Stil maar, stil maar, stil, Babani, Kyk hoe blink die awendster. Niemand sal vir tjintjie slaan nie – Stil

maar, al is Mammie ver
.

Die aand raak vaal voor my oë, want Samuel is nie ’n man wat sing nie, net by onse vuur. Ons laai Abel

by die agterdeur af. Hy klou aan Samuel vas. Gaan in, sê Samuel, môre kom haal ek jou, dan gaan ek en jy

skape bymekaarmaak in die vygieboskamp.

Ons steek nie die vuur by onse huis aan nie. Kersstompie op die tafel. Stukkie brood. Kooi toe. Ounag

maak Samuel my wakker. Thandeka, sê hy, ek

kan nie slaap nie, dis te seer binne-in my … Ek kry ook nie verder geslaap nie. My kop wil nie die

lied los wat Samuel vir die tjint gesing het nie.

Stil maar, stil maar, pikanienie, Oor die bergtop rys die maan. Niemand sal vir ons hier sien nie; Môre sal

ons huis toe gaan …

Luister mooi, al die geeste van al die mamas en papas … Daar kom ’n dag dat julle met julle sekel sal

afsny wat júlle gesaai het. Hawersaad bring nie ’n lusernoes nie.

Abel wil nooit weer die natgepiede broek gedra het nie. Al het ek hom oor en oor gewas.

Seker het die broek hom laat onthou hy’t hom natgepie van seerkry. As mens trane en pie

deurmekaarroer, kry jy ’n sterk gif. ’n Seunstjint van tien raak vergiftig van skaamte as hy hom voor ander

mense natpie. En hy bly nie altyddeur tien nie. Hy raak ’n mán. Met ’n grote spies. Sy manwees sit in sy

spies. As hy dink sy spies is stomp, slyp hy hom oralster waar hy iets sien wat soos ’n slypsteen lyk.

Eendag toe Gertruida kliphuis toe verdwyn het, sit ek alleen by die aandvuur. Ek kyk op na die sterre

en ek vra vir Samuel se ster: Samuel, hóé huil ’n man?

Hy huil net ’n bietjie, met sy gesig weggedraai van andere se oë af, sê Samuel uit die swarte nag. Of hy

loop huil agter ’n boom of ’n krans.

Is nie só nie, Samuel, sê ek. ’n Man huil nie deur sy oë nie; hy huil deur sy spies.

Daardie Krismis kry Abel sy .22-geweer. Maar hy skiet nie soos sy broers na blikke en bottels en

koeldrankdoppies nie. Hy skiet na goed wat lewe. Miskruiers, swaeltjies, akkedisse. Tot groen granate en

tamaties aan die stoele. Gaan tel nooit die dooie ding op nie, asof dit hom nie traak nie.

Eendag staan ek in die waskamer en vou strykgoed op. Die ouman en die broertjies is Bosfontein toe

om te help bees slag en biltong sny. Abel wil nie saam nie. Hy dwaal op die werf met sy geweer. Ek kyk

deur die venster; my oë wil nie glo wat hulle sien nie. Abel loop reguit na waar die werfkat in die son lê.

Sy rol swaar om, want sy staan dik met kleintjies. Hy druk die geweer téén die kat se kop. Eers dog ek hy

speel. Toe klap die skoot. Die kat skop styf. Abel hou die geweer teen die kat se kop en skiet nog vier

skote. Hang die geweer oor sy skouer en sleep die kat aan die stert putlewwetrie toe. Maak die deur agter

hom toe.

Ek staan met die halfgevoude laken. Lam tot in my voete.

Hy bly lank in die putlewwetrie. Toe hy uitkom, vee hy sy meslem aan sy broek af. Loop gooi sand op

die bloed, vee die sleepmerke dood met ’n olienhouttakkie. Ek drink water by die waskamerkraan.

iNkosi, het Abel dan die kat oopgesny? Hoekom? Wou hy sien waarvandaan iets in die wêreld kom? Is

dit ’n kwaadheid oor sy eie mama? Of oordat hy weet hoe erg sy papa oor die werfkat is?

As ’n man nog nie weet hoe om deur sy spies te huil nie, huil hy deur die punt van sy geweer.

Sy kopwysies loop deurmekaar.

Jare later slyp hy sy spies op Gertruida.

En ek wat als gesien het, het stilgebly.

Vlieg nou terug na julle plekke toe, geeste van al die papas en mamas. Ek is moeg van terugkyk. Ek wil

slaap met my gesig in die son. Tot die slaap my vat, sal ek saggietjies sing.

Vir myself.

Vir Abel se gees wat sweerlik vol skuld weggevaar het.

Vir al die papas en mamas wat nie dink wat hulle doen nie.

Maar die meeste van almal vir Gertruida.

Sendiya vuma, Somandla … Stuur ons Here, in u Naam …

*

Sy dra die gastetoilet energieloos leeg. Beweeg verder links op die stoep vir weggooispasie. Tussen die

keiserskroonbloulelies wat Kerstyd blom.

Water drink by die tenk. Wasgoed afhaal. Opvou. Bêre in haar wit linnekas. Stap na OuPieta toe waar

hy in die groentetuin skoffel. Sê hy moet die yskasgoed onder by die rivier begrawe.

“Nooitjie,” en hy steek die graaf in die grond, “kan ons praat oor die matras wat in die voortuin …”

“Nee, ek wil nie daaroor praat nie.”

Wikkel die graaf. “My lyf lê snags sleg op die knopperige matras wat ek al van doerie jare af het. En

ek kommer my snags oor wat van Pietertjie sal word as ek …”

“Ek sal Krismis vir jou ’n nuwe matras koop, OuPieta. Lakens en komberse en kussings ook.”

Die graaf val om. “Op Nooitjie se erewoord? Allester splinternuut?”

“Op my erewoord, OuPieta. Maar as ek jou vang dat jy iets wegdra van die goed voor die stoep, trek

ek my erewoord terug. Oor Pietertjie hoef jy nie een nag wakker te lê nie, ek sal vir hom sorg.”

“Dankie vir allester, Nooitjie. As ek die dag afsterf, moet Nooitjie kyk in die Mazawattee-teeblik is

geld wat ek opspaar vir my kis. Die Antique Shop op die dorp sê hulle sal my betaal vir die blik ook, as

daar straks kortkom vir …”

“Gebruik die blikgeld om vir jou en Pietertjie klere te koop, of enigiets. Ek sal jou kis en alles van jou

begrafnis betaal. Maar jy gaan leef tot verby honderd, OuPieta. Die Here sal sorg dat jy Pietertjie

wegsien voor Hy jou vat. Hy ken mos jou kommer.”

“Rekent Nooitjie wragtig só?”

“Wragtig, OuPieta.”

Hy loop met kappende knieë weg; sy weet sy dae op aarde is min. Dis tyd dat hy ophou werk en

bedags teen sy voormuur in die son sit. Voor hy gaan sit, moet hy die turksvybome rondom sy huis uitkap,

sodat hy ver kan sien oor Kiepersolkloof. S´y en die klomp nuwe werkerskinders sal in oorvloed vir hom

turksvye pluk

Was gesig. Borsel tande. Kam hare. Gebruik haar wit toilet. Die telefoon lui weer. Dalk is dit Braham.

Sy wíl nie met hom praat nie.

Sy loop deur Abel en Susarah se kamer na hulle badkamer. Die vullishouer loop oor van koolblare.

Groen vlekke in die stort. Dan hét Abel gestort voor kerk. Niks van háár is saam met hom graf toe nie.

Stroop die Hollandse kantgordyne van die koperstokke. Rol alles wat lapperig is saam met laas week

se wasgoed toe in twee badhanddoeke. Gooi tussen die bloulelies. Terug vir die vullishouer, mandjie

toiletpapier, tydskrifrakkie. Pak die wasgoedbad vol met toiletware. Vies vat sy aan die naelborsel.

Waslappe, skeermesse, puimsteentjie, haarborsels. Alles in die muurkassie en uit die kas onder die

wasbak. Sleep die bad in die gang af. Dis te swaar om op die stoepmuur te tel. Eers ’n klomp goed

uitgooi en die bad ligter maak. Tandepastabuis. Proppie afdraai, druk die tandepasta oor die

halfmaantafel. Spuit ’n geel sjampoestraal oor die besoekersboek. Wit lyfroom op die muurstaander waar

Anthonie se foto gestaan het. Opknapper oor die hangkas. Die ligpers laventel-badskuim vorm ’n taai

stroom oor die vlekke op die matras.

Sy háát die reuk van laventel. Wanneer Susarah nie by die huis was nie, moes sy die paddaprins in

laventelskuim bad.

Susarah was dikwels weg. Vir allerhande dinge.

Skilderklasse. Koop ’n esel, skilderdoeke, verf, kwaste. Skilder niks. Kursus in aromaterapie. Al die

olies staan nutteloos op die spensrak. Terwyl sy haar kreatiewe drange uitleef, bly Gertruidatjie op die

plaas.

“Tog so erg oor haar pa en haar boomhuis en Bamba,” het sy haar ma dikwels hoor sê. Tot sy later

geglo het dis waar. “Sy’s verveeld en neulerig as sy saam gaan dorp toe.”

Niemand op die dorp weet sy huil elke keer om saam te gaan nie. Of dat sy onder haar bed of in haar

kas wegkruip wanneer Mama Thandeka huis toe gaan nie. Wegkruip help nie; hy soek haar. Dan sê hy sy

is die prinses en hy is die padda; sy moet hom in laventelskuim bad. Al gril sy, kniel die prinsessie by die

bad. Terwyl sy hom vinnig en hard was, kry sy hom jammer, want hy huil. Dik wit trane wat uit sy een

gebreklike oog spat.

Partykeer hou hulle kamerkonsert, soos die musiekvereniging, met die liedjie wat tannie Martie hulle

by die speelskooltjie geleer het.

Ou Paddatjie kom aangespring:

Plas, plas, plas, plas, plas.

Dis sleg om kaal op jou hurke te spring soos ’n padda, veral as dit koud is.

Dis sy ou viool.

Sy naam is Meester van der Sand,

Hoof van Paddaskool.

Sy hou niks van viool speel nie. Ook nie van ’n skoolhoof nie.

As die konsert verby is, lê sy stil tot die moegkloppies weggaan. Dan loop sy met Lulu rivier toe en

leer haar lees wat sy in die sand skryf. Sy is Meester van der Sand. As Lulu verkeerd lees, haal sy haar

doek af en slaan haar op haar pietermuis met ’n riet. Lulu het nie ’n regte pietermuis nie, toe teken sy vir

Lulu een met haar ma se swart koki en knip ’n gaatjie dáár met die kombuisskêr. As sy haar vinger in die

gaatjie steek, voel sy wollerige goed binne-in Lulu. Maar as Lulu haar doek aanhet, sien niemand die

gaatjie nie.

Lulu lees mooi, want sy wil nie by Meester van der Sand pak kry nie.

Erg. Eet. Tee. Gat. Gee. Dra. Red. Uit.

Dis weersinwekkend om die roomkleurige handseep uit te pomp. Gooi die bottel só hard teen Ouma

Strydom se spieëlkas dat haar skouerpotjie seerkry.

Spuit die skeerroom oor die laventelbos. Dit word ’n skuimbos. Lig die bad bo haar kop en skiet die

res van die losgoed tussen die bloulelies in.

En haar warrelende gedagtes hardloop weg, tot by die einde van die swartmaanjaar toe Braham by die

skool aangekom het.

Eindeksamen, standerd agt. Afrikaans-taalvraestel.

Vraag 4(g). Omskryf die idiomatiese woorde. Kruidjieroer-my-nie. Kripvreter. Melkdermpie.

Kêskuiken. Manteldraaier. Lunsriem. Laventelhaan.

Sy omskryf elkeen, behalwe laventelhaan. Jaag die res van die vraestel af. Terug na “laventelhaan”.

Haar antwoord moet ’n onontsyferbare boodskap aan Braham Fourie wees.

Elf woorde. Elkeen moet begin met ’n letter van ABEL STRYDOM. Elkeen met ’n hoofletter, want

onreëlmatigheid trek aandag. As hy die hoofletters sien, mag hy dálk ’n aanduiding kry. Dink lank, werk in

potlood. Vee uit, skryf oor.

Aanranding Baar Emosionele Letsels. Sal Tyd Regtigwaar Ysingwekkende Defekte Ongedaan

Maak?

Dis nie reg na haar sin nie, en dis nie inge-ink nie, maar die toesigonderwyser neem antwoordstelle op

en is vier banke weg. Die kans is nul dat Braham Fourie dit sal ontrafel.

Sy dra elke rafel uit die linnekas in die badkamer. Strooi dit eweredig oor die berg van gemors in die

tuin.

Al wat oorbly, is die perlemoenskulp vol verbleikte seepampoentjies op die vensterbank. Tussen die

pampoentjies haal sy die klein glasbotteltjie uit. Vol hundreds and thousands en ’n enkele silwer

koekversierballetjie. Die plakkertjie is verweer van jare se wasem, tog leesbaar: You’re one in a

thousand.

Kerkbasaar, in die tyd voor die naglikkewaan.

Sy wen die botteltjie vol hundreds and thousands by die tombolatafel. Andrea se ma verduidelik die

Engelse woorde. Sy huppel tussen die basaarmense deur na haar ma by die naaldwerktafel. Haar ma het

baie popklere gemaak wat sy by die basaar verkoop sodat die kerk geld het om vir arm mense skoene en

kos te koop.

“Presentjie vir Mamma!” roep sy en spring op en af.

Haar ma lees die woorde en tel haar op en draai al in die rondte. “Dis ontsettend kosbaar,

Gertruidatjie van Mamma. Ek sal dit tot in alle ewigheid bewaar.”

Wat beteken “ontsettend kosbaar”?

Om baie, baie van iets te hou.

En “tot in alle ewigheid bewaar”?

Vir altyd en altyd bêre.

Haar ma kielie haar en sit haar neer. Sy huppel weg op soek na haar pa; hy moet vir haar ’n

Other books

Cast Me Gently by Caren J. Werlinger
The Youngest One by Nancy Springer
His Private Nurse by Arlene James
Blindsided by Adams, Sayer
Unicorns' Opal by Richard S. Tuttle
The Deader the Better by G. M. Ford
Her Bareback Cowboys by Ylette Pearson