Authors: Annelie Botes
Eendag het sy vir haar ma gevra hoekom loop sy nie weg en bly by Tannie Lyla nie. Toe sê haar ma sy
wil naby haar kind se graf wees. En sy wat Gertruida is, moet eers klaarmaak met skool.
“Ek kan klaarmaak sonder Ma.” Snedig. “Ek kan báie dinge doen sonder Ma.”
Pynsplinters in haar ma se oë. “Ek weet, Gertruida, maar nogtans …”
“Nogtans wát?”
Toe drink haar ma twee kopseerpille en gaan lê in die skemer kamer.
Die koekblikgeld móét groei. Dalk kan sy ’n Bonsmara verkoop as Abel weg is vetveeveiling toe, en
sê dis gesteel. Die prys van pantyliners en wet wipes gaan haar nie keer van wegloop nie.
Verskuif teen die John Deere se wiel. Smeer haar neus aan haar arm af. Sy moet iets dóén omtrent die
diefwering; dis inkerkering.
“Bly hier,” sê sy vir Bamba. “Thula, ek kom nou-nou.”
Drie keer loop sy in die lou nag onder die skerfiemaan rivier toe met die verfblik. Gebruik
koerantpapier om ’n tregter te draai. Maak bietjie lig met haar Victorinox-flitsie. Gooi sand in die John
Deere se dieseltenk. Uit weerwraak.
Gertruida dra drie dragte uit die rietruigte. Gertruida tart die rugruiter.
Dagbreek. Sonsopkoms.
Toe Mabel inkom werk toe, stap sy saam met haar by die agterdeur in. Asof sy nooit weg was nie.
Asof die eeu nie gedraai het nie. Asof sy nie agtien geword het in die donker berg nie. Asof sy nie die
diefwering gesien het nie.
Abel het haar tiendubbeld gestraf. Oor die wegloop en oor die John Deere.
Sy jubel toe sy met haar wit Corsa koshuis toe ry vir graad elf. Bruinste wit kind in die skool. Maer en
seningrig; gespierd. Om Braham te sien tydens saalbyeenkoms laat haar duisel.
Haar tennisvordering oorbluf hom. Middel Februarie speel sy uit vir die nommer-een-posisie, in haar
swart-en-wit tennisdrag. Niemand sal ’n bruin strepie sien nie. Smeer haar opponent genadeloos. Braham
skud haar hand. Elektriese prikke skiet deur haar.
“Meesterlik, Gertruida. Só gaan jy die provinsiale span haal.”
Dankie vir die tennismasjien, die spreiligte, die duur raket met Kersfees.
Die volgende oggend gooi sy bulkend op voor die opstaanklok lui. Sonsteek van ’n wedstryd in
versengende hitte. Net slym in haar maag. Haar oë wil uitpeul. Klou aan die wasbak. Spoel haar gesig met
koue water. Haar maag ruk en ruk.
Toe word dit elke dag se ding. Braak, duiselig.
Moenie dat dit waar wees nie, Here, asseblief.
Sy het dit sien kom einde Januarie toe haar bloeding wegbly. Haar borste is geswel. Haar blaas bly
vol. Naar. Hoofpyn. Teësin in kos. Dra elke dag ’n skooltrui; speel tennis in ’n sweetpakbaadjie.
As sy elke dag tien keer om die rugbyveld draf, en in amper kokende water bad, mag die kind dalk
afkom.
*
Ek sit by die tafel en drink my koffie. My maag is vol agter dinnertyd. Die hokhaantjie het lekker sag
gekook, en is lank laas dat Mabel gemmerpoeding gemaak het. Sy’t gaan afloer en sê Gertruida sit rug
teen die kiepersol met toe oë. Lyk of sy slaap.
“Sy slaap nie, sy verlang.”
Mabel kyk my aan skoon of ek onlekker is. “Mama het sonsteek gekry in die wiegstoel. Na wie sal
Gertruida nou miskien verlang?”
“Na die man van die skool. Maar los dit daar. Skryf ’n botteltjie staaldruppels by jou winkelgoed. My
bloed voel dun.”
“Ek gaan nie vandag winkel toe nie, Mama. Ek gaan iewers anders heen, en ek gaan eers laatmiddag by
die huis …”
Ek gewaar ’n onrus in Mabel. “Waarheen gaan jy, Mabel?”
“Ek sal Mama sê as ek terugkom. Is oor iets van Gertruida.”
Doerie tyd, nog voor Gertruida se bybietjie gebore gekom het, het ek partykeers gehelp by die tennis se
kombuis. Sitwerke, want my bene wou gedurigdeur inknak onder my.
Kerf pietersielie, sny selderystingels. Maak stokkies met aspersies en beestongblokkies en klein
tamatietjies. Vryf glase blink. Is vir my snaaks gewees dat Gertruida so in die lapa se kombuis werk. Is
nie haar manier om rondom Missus Susarah te draai nie. Vat eerders die hond veld toe, swem in die
rivier, tap aalwynstroop, skiet onder die dassie-verpesting. Nooit ’n kombuistjint gewees nie.
Maar daar staan sy week agter week en teeskinkborde reg-sit en dadelkoekies uitpak. Dra koeldrank
aan, kry glase bymekaar, vee buitetafels af. Skoon of sy tot ’n soorte van bekering gekom het.
Maar heeltyd sien ek hoe loop haar oë agter die man met die bril aan. Nie ’n oormooie man nie,
fynerig in die skouers. As haar oë so agter hom aanloop, kom sit die lag om haar mondhoeke en sy raak
fluks in die kombuis. Ek botter die dadelbrood en bid dat iNkosi sal help dat die man agter Gertruida sal
aankyk. Maar Mabel sê die man is ’n onderwyster by die skool. En ’n onderwyster mag nie by ’n
skooltjint rondkuier nie.
In die tussentyd wag en wag ek, want die liefde laat hom nie aanja nie. Tersellertyd is die liefde nie ’n
ding wat hom agter ’n wal laat opdam nie. Kyk maar hoe’t ek doerie jare my tata en my mama gegroet en
op Samuel se donkiekar geklim. Oordat die liefde gesê het: Klim op, Thandeka, en ry saam met hierdie
man. Tot waar ook al.
En toe kom die vreestelike dag toe hulle Samuel se dooie lyf uit die kloof dra.
Die oggend toe die dorpskerk se umfundisi met die Bybel langes die graf staan en ek slaan my oë op na
die berge van Kiepersolkloof wyl die kis sak, kos dit my vashou aan Ou-Pieta, anderster spring ek in die
graf om saam met Samuel weg te vaar. Was dit nie vir Mabel wat versôre moet word en grootkom nie, hét
ek doerie tyd my verstand verloor.
Dieselfde middag staan ek langes Anthonie se graf. Die wind waai die umfundisi se swart mantel op
en hy moet die Bybelblaaie vasdruk. Hy lees van Job wat ’n ryke boer was. Hoe iNkosi allester by hom
weggevat het. Skape, osse, kamele, donkies én al tien sy tjinners. Hoedat Job op ’n as-hoop gelê en treur
het, maar hy’t weer opgestaan en sy sere het gesond geraak. Later al sy goed dubbeld teruggekry. Tot
nuwe tjinners ook. Daardie middag is ek sommer lus en hou my dronk en roep oor die mense se koppe om
te vra of Job toe opgehou verlang het na die tien tjinners wat dood is.
Ek kan nie na Missus Susarah kyk nie. Haar oë lyk nes ’n koei s’n lyk as die kalf vassit. Nooit sal ek
vergeet hoedat sy geroep het toe haar tjint se kis sak nie. Mens vergeet nie sulke geluide nie.
Abel het gestaan soos een wat klaar dood is. Tande opmekaar gebyt; ’n bewe in sy lippe, nes ’n hond
wat koud kry. Gertruidatjie in haar wit rokkie wat om sy been vashou en met haar dimpelhandjie oor haar
papa se kniekop vrywe. Tiktik haar handjie teen sy been, soos of sy wil sê: Thula, thula, toemaar … Abel
vrywe haar haartjies en trek haar koppietjie teen hom vas. My hart wil gebreek het om hulle só te sien.
iNkosi wat my herder is, ek wil nie daardie tyd onthou nie.
Maar mens kan nie jou onthougoeters sommer net uitslag en dink jy gaan nie bloei nie. Partykeers is dit
só dat mens jou nie doodbloei nie, net skoonbloei. Seker maar so gewees met Job ook.
In die tussentyd sit Gertruida met ’n wit sweetpak aan teen die kiepersol. En my kop het rigting verloor.
Maar ek is oud, ek kan my dinkpaaie loop soos ek wil.
Groot partytjie gewees die dag toe Anthonie tien jare raak. Hy kry sy .22-geweer en ’n knipmes. Sondag
gewees, derde dag van Februarie van 1985. Agter kerk kom sy maters en hulle papas en mamas
verjaarsdag hou op Kiepersolkloof.
Swem, spitskaap. Missus Susarah hang uit met slaaie wat soos blomtuine lyk. Drienks met
sambreeltjies en kruisementblaartjies. Samuel en die ander plaasmense kap hout en pak vure. Doerie tyd
was hier nog klompe mense op Kiepersolkloof. Eers omtrents tien jaar later dat Abel dik geraak het vir
die wet, en die huise leeggeraak het.
Ewentwil.
Ek drawwe aaneen en maak huis skoon, van die Vrydag af. Missus Susarah bak vir Anthonie ’n
verjaarsdagkoek, kompleet nes ’n klein John Deere’tjie.
Doerie tyd sien ek dinge is besig om reguit te draai vir Abel en Missus Susarah. Die ouman se gif is
aan’t wegsypel uit hulle are. Kiepersolkloof is ’n mooier plaas as wat die ouman geken het. Hy sal
uitbreek uit sy graf uit as hy die tuin vol watervoortjies en bruggies sien. Plate kappertjiesoldate rondom
die voete van die witvlerk-engel waar Missus Susarah op stil aande ’n kers in die lanternglasie brand
maak. Pleks van ’n wit kalkhuis staan die huis in ’n mooie bruin rok. Terracotta, sê Missus Susarah.
Bo-op als gereken, is Abel en Missus Susarah se harte opreg oor hulle tjinners, anderster as wat die
ouman s’n was. Speel ludo en vreetkaart by die tafel in die kombuis. Stoei op die gras, swem in die
rivier. Abel ry botterboom saam met Anthonie en bou vir Gertruida ’n boomhuis. Missus Susarah stik
mooie gordyntjies daarvoor, brei jersies vir Gertruida se poppe.
Maar laat dit wees soos dit wil.
Agtermiddagtyd beginte die kuiermense huis kry. Toe die laaste mense wegry, kom sê Samuel hy en
een van die manne ry gou vygieboskamp toe om hooibale te laai vir die koeikraal; hy kom haal die
bakkiesleutels. Abel haal die sleutel uit en hou dit vir Anthonie. Grootman, jy kan mos lankal bestuur, sê
hy, en op jou tiende verjaarsdag kan jy Samuel-hulle vygieboskamp toe vat met die Isuzu.
Ek was aan’t koppies bymekaarmaak op die stoep, en het Mabel huis toe gestuur om fynhoutjies op te
tel. My moeë lyf wou vroeg kooi toe. Ek het selwers gesien hoedat hulle wegry. Samuel en Anthonie
voorin, met Anthonie agter die stuur. Die ander man agterop. Nêrenster in my was ’n donker gevoelte nie,
want Anthonie kon al bestuur toe hy skaars oor die stuurwiel kon sien. Moes omtrents regop staan om die
brieke en petrol by te kom.
Net toe ek die stoep vee voor ek huis kry, kom die ander man aangehol. Baadjie en gesig onder stof.
Oë staan bol in sy kop. Hy’t afgespring toe hy sien die bakkie gly oor die afgrond, sê hy uit sy asem uit.
Tot vandag toe, in my halfblinde oumensjare, spook die prentjie van hoe hulle Samuel se lyf op ’n seil dra
en op die stoep neerlê. Anthonie s’n langesaan.
Lywe sonder geeste, toegegooi onder komberse.
Sterremense.
Vandag nog hoor ek Missus Susarah skreeu. Of ek sien haar in my drome deur die tuin hardloop soos
’n hond wat dolheid het. Storm heen en weer tussen die stoep en die tuin. Slaan haar vuiste teen Abel. Hy
staan soos ’n sementmens. Slaan in sy gesig, op sy bors, skop sy skene. Vervloek hom tot in die hel oor hy
die sleutels vir Anthonie gegee het.
Hy staan.
As die dokter haar nie aan die slaap kom spuit het nie, sal sy dieselfde aand van die windpomp
afgespring het. Of die groot geweer teen haar verhemelte gedruk het.
Ampers twee-en-twintig jare het verbygegaan.
In al daardie tyd het ek en Missus Susarah nooit gepraat oor Mabel se wittigheid nie. Waar sal dit haar
ieder geval gebring het? Maar sy’t geweet, dié dat sy Mabel soos ’n eie tjint liefgehet het. Ek sal nie kan
sê hoe Missus Susarah se kop gewerk het nie, maar ek het baie dae die gedagte gekry dat sy die liefde wat
sy aan Abel geskuld het, op Mabel neergesit het. Soos of sy Abel deur Mabel liefhet.
Maar nooit agter Anthonie se dood het ek gesien dat Missus Susarah Abel troos nie. Raak nooit bietjie
aan hom nie. Sit nooit by hom en koffie drink nie. Lag nooit met hom nie. Als in haar het pikswart
omgedraai.
Net Gertruida het hom lief. Tros agter hom aan waenhuis toe. Sing vir hom.
Dit is my mammie, lief en goed.
Dit is my pa met sy mannemoed.
In my hart is daar ’n sekerte dat die ding van alleenwees en weggestoot wees Abel latertyd laat kop
verloor het. Is nie dat ek vir hom skerm nie. Is net dat ek kan dink hoedat die smarte hom ook maar moes
gevang het. Die bittere skuld. Bang ook, oor almal op Kiepersolkloof saamgepraat het om vir die polieste
te sê Samuel het die bakkie gedryf. Want as die polieste geweet het Anthonie was agter die stuur, het Abel
in die hof gestaan vir moord op sy tjint. Manslag, só sê Mabel.
As mens verwyte en bangwees en wegstoting saamroer, kry jy ’n brousel wat die verstand dronk maak.
Ek wil nie uitwerk watse gif dit kan maak nie.
Toe gaan Missus Susarah Kaap toe vir ’n VLV-ding, seker so ses maande agter Anthonie se dood.
Gertruidatjie bly by my en Abel. Is in daardie maande, nadat Missus Susarah teruggekom het, dat
Gertruida stom geraak het. Sê nie meer versies op nie. Voer nie die tuinfeetjies broodkrummels nie. Jaag
nie naaldekokers by die waterdammetjies in die tuin nie. Beginte haar bed natpie.
Ek dog dis Anthonie se afsterwe wat haar tóé eers beet-vat.
Die oggend toe ek droë lakens oor haar kooi trek en ek kry die bloedmerke op die onderlaken en op
haar pajamabroek, skrik ek my in my moer in ampers onderstebo.
Gertruida, gaan sê ek waar sy in ’n hoekietjie van die boomhuis sit met haar pop, wys my waar bloei
jy.
Ek bloei nie, sê sy en die skrik trek oor haar gesiggie.
Jy jok vir my, Gertruida. Sê, of ek loop sê vir jou mama.
As ek sê, gaan die likkewaan in die nag kom en sy tong in my neus opdruk en my brein uitsuig.
Is nie waar nie, Gertruida. Buitendien, Bamba slaap mos by jou. Hoe dink jy gaan ’n likkewaan by
hóm verbykom? Sê vir my, Gertruida, ek wil salf aan jou bloeiplek …
My pa hét salf aangesmeer in die nag. Hy het die salf by sy slurp uitgetoor en met sy vingers
aangesmeer. Loop weg van my boomhuis, jy raas my babatjie wakker.
Sawens sit ek alleen by die vuur; Samuel is ’n ster. Daar’s niemand wat ek kan vertel van my skrik nie.
Ek moet by die umfundisi se huis klop as ek dorp toe gaan, dink ek. Hy is die man van die Here en sal nie