Authors: Annelie Botes
slaapkamer leegmaak. Vandag moet sy ’n recce wees, anders gaan sy skeur soos ’n voos lap.
Opstaan. Langmou-T-hemp oor die wit nagrok. Skoene. Onder die kiepersol staan ’n bottel louwarm
koffie. Halwe brood. Oopgesnyde blikkie vyekonfyt.
Dra huis toe; eet by die watertenk. Kyk in die waenhuis hoe vol is die petroldrom. Driekwart. Vyftien
liter sal genoeg wees. Sy moet die tuinslang afrol. Vanaand as dit feetjiemaan is en die nag is swart, gaan
sy die vuurhoutjie trek. Met haar eie oë sien hoe verskroei ’n afstootlike memorieboek.
Sy vat die graaf waarmee Abel sement gemeng het en stap familiekerkhof toe. Begin ’n gat spit. Môre
met dagbreek wil sy die laaste goed by die kliphuis gaan haal. Begrafnis hou. Eendag ’n swart
marmerblad laat opsit. Hier rus die memorieboek van Gertruida Susannah Jakomina Strydom. Sterfdatum:
Sondag, 31 Augustus 2008.
OuPieta kom van die hoenderhok af aangestap met sy hoed teen sy bors. “Wat gaan hier aan,
Nooitjie?” vra hy by die hekkie van die kerkhof.
“Ek grawe ’n graf, OuPieta.”
“Wie’s dan doodgegaan?”
“Iets in my kop, OuPieta, iets wat ek wil vergeet.”
“Mens grou nie sommer wildweg waar ander dooies …”
“Moenie vandag die tuinspreiers oopdraai nie. Ek wil nie sukkel met nat goed nie.”
Hy vroetel met die heklussie. “Is als nog reg met die matras, Nooitjie?”
“Ja. Waar is my kind begrawe, OuPieta?”
Hy ruk sy asem op. “Waffer tjint, Nooitjie?”
“Jy weet goed waarvan ek praat.”
“Nee, Nooitjie, van ’n tjint wat gebegrawe is, wis ek niks. Die Here hoor my.”
Dis die uur anderkant middernag. Vrydag, 13 Oktober van die jaar 2000, onheilsdag. Toe die volmaan op
die kappertjies in Tannie Lyla se tuin skyn, breek die tyd aan. Gooi ’n handdoek op die vloer waar haar
water gebreek het. Die helse pyne kom twee minute uitmekaar. Sy sal nié geboorte gee aan die kind nie.
Leun by die venster uit vir asem. Die krampe is genoeg om van te sterf. Sy is bly Mabel weet waar is
die koekblik en die gesteelde juwele.
Vroeër die aand het Tannie Lyla kom nagsê voor sy die ganglig afsit. “Jy’s ’n week oor jou tyd,
Gertruida. Jy moet roep as dit nodig is. Ek slaap taamlik lig, maar ek los my deur oop …”
Verswyg die dowwe pyn laag in haar rug. “Ek sal roep, Tannie Lyla.”
“Ek weet ons is al dikwels deur die ding, maar is jy oortuig jy wil die kind laat aanneem, Gertruida,
hart en siel oortuig?”
Andrea se kind was erg gebreklik. Diertjie. Goddank het hy vroeg gesterf. Maar, soos Tannie Lyla
verduidelik het wanneer sy warmsjokolade gebring en by haar op die bed kom lê en gesels het, is kinders
wat in gesinskande gebore word, se gebreke nie altyd fisiek nie, maar soms psigologies. Eers wanneer
hulle karakters en persoonlikhede vorm kry, begin die aanneemouers se seisoen van hel.
Goedgelowige kinderlose ouers wat niks anders as ’n kindjie wou hê nie. Om lief te hê; ’n gesinskring
te vorm. Maar die weerlose bondeltjie wat hulle lank terug in ekstase gaan haal het, het verander in ’n
onhanteerbare wese wat hulle nie verstaan nie.
Hulle rits van dokter na dokter, sielkundige na sielkundige. Hulle mediese fonds raak uitgeput.
Skoolprobleme. Sosiale probleme. Maar hulle hou nooit op soek na oplossings nie.
Perfek geskape babatjie.
Wanaangepaste tiener.
Nimmereindigende probleme, nagmerries, vrugtelose soektogte. Niemand het vir hulle gesê hulle
aanneemkindjie is ’n bloedskandeproduk in wie die negatiewe genetiese eienskappe saamgebondel mag
wees nie. Wie sou dit vir hulle kon of wóú sê? Indien iemand dit wél vir hulle gesê het, sou hulle dalk
kleinkoppie getrek het. Of hulle sou reg van die begin af kon weet waar die probleme gaan uitspring, en
betyds paraat wees.
Dis onregverdig, het Tannie Lyla gesê, en dis blatante misleiding van twee mense wat nét góéie
bedoelings het. Jy mág en durf dit nie doen nie, Gertruida. Goed, gee die kind vir aanneming as jy hom of
haar nie self wil grootmaak nie. Maar gebruik ’n skuilnaam om jou en jou pa-hulle se identiteite te
beskerm. Vergeet van die wet, want die wet sal nie die aanneemouers help om die kind groot te maak nie.
Dring by aanneming daarop aan dat die ouers ingelig word oor die genetiese kwessie. Laat die ouers ’n
ingeligte besluit neem. Vrywaar jouself van ’n aandeel in twee liewe mense se moontlike smart.
Haar rug het gepyn. Sy wou hê Tannie Lyla moet gaan slaap, en nie wéér begin karring oor ’n
verantwoordelike besluit en openbaarmaking nie. “Wat anders kan ek doen? Want ék wil nie die kind hê
nie. En my pa-hulle sterf eerder voor hulle ’n buite-egtelike kind op Kiepersolkloof …”
“Ek sal saam met jou hospitaal toe gaan, en ék sal jou vorms invul …”
“Dis goed só, Tannie Lyla.” Laat haar net loop, asseblief.
Terwyl sy tande borsel, kom daar ’n sms van Susarah.
Is alles reg, Gertruida? Moet ons Oos-Londen
toe kom
?
Sms terug: alles is reg.
Dit kloppyn oor haar niere; haar voete is geswel. Sinne maak sal help.
Die ure draai te traag.
Gertruida dra die drag. Gertruida gru gedurigdeur.
Dit help nie. Sy lê in die bed en rol van die een sy
na die ander. Het sy nie dalk nierstuipe nie? Sit die lessenaarstoel by die voetenent en lig haar warm
voete tot op die rugleuning. Maar dis te ongemaklik om op haar rug te lê.
Teen tienuur verander die rug- en nierpyn in sametrekkings, ses minute uitmekaar. Moenie kreun of ’n
vloerplank laat kraak nie. Tannie Lyla moenie wakker word nie. Dink déúr die krampe aan ander goed.
Mabel wou nie hê sy moet berg toe gaan nie.
“Jy’s volle ses maande, Gertruida, jy soek moeilikheid. Daar’s niemand naby om te help nie. Wat as
die kind in die berg afkom?”
“As bergklim sal help dat die kind afkom, hou ek nooit op klim nie. Daar’s iets wat ek jou móét gaan
wys. Ons sal stadig klim, en môreaand is ons terug.”
Kniel by die bed. Druk haar gesig in ’n kussing om die gesteun te demp. Die pyne is drie minute
uitmekaar. Skuifel venster toe vir asem. Fluisterend vloek sy die soldaatkappertjies. Praat met die maan,
om te ontsnap van die sametrekkings.
In 1984 toe dit ’n feetjiemaanjaar was, is Oupa Strydom dood. In 1986 het sy geleer van towersalf. In
1989 moes sy en Andrea teruggaan sub A toe. Dieselfde leesboeke. Sy wou nie meer lees nie. Sy wou
glad nie praat in die klas nie.
Die ganghorlosie slaan middernag. Die pyne stu vinniger opmekaar. Here, laat die kind verdwyn! Dink
aan Frieda en die kolganse en die Kwakerboek, voor sy sterf van pyn.
Bloumaan. Feetjiemaan. Sekelmaan. Swartmaan.
Hierdie kind sal nié uitkom nie!
Daar is bykans geen onderbreking tussen die pyne nie. Sy kan nie meer regopstaan nie. Sit op die bed
se voetenent; gryp die beddegoed vas. Asseblief, Here, laat dit verbygaan …
Ineens verander die pyn, word allerdringends. Die kind gaan uitkom! Gryp die hemp wat oor die
rugleuning van die stoel hang. Draai dit om haar vuis. Druk haar geboortekanaal toe. Sy moet ’n recce
wees, sy moenie ophou toedruk nie! Sing in haar kop. Fearless men who jump and die … Dansende
sterretjies voor haar oë.
Druk terug, druk terug … Haar arm is te lam vir vuis maak. Trek die stoel met haar linkerhand nader.
Skuif blitsig tot op die stoel en gooi die hemp eenkant toe. Gryp die kante van die stoel vas; druk haar
geboortekanaal toe teen die sitplek. Die pyn wil haar kranksinnig maak. Snak na asem. Meer en meer
sterretjies.
Hou uit, hou uit. Moenie kreun nie.
Feetjiemaan 1995 het haar ma die mat uit Turkye gebring, en haar maandstonde het begin. Feetjiemaan,
1997. Sy druip standerd ses. Feetjiemaan, 2000. Almal dink sy is weg vir ’n skoueroperasie.
Braak onbeheers oor haar bolmaag. Tannie Lyla moenie wakker word nie. Miljoene sterretjies. Klou
aan die stoelrand. Sy kán nie meer nie. Haar hande glip van die stoelrand af. Suising in haar kop; alles in
die kamer word klein en ver. Die stoel kantel.
Sy weet nie daarvan dat sy omval en die vloer tref nie.
Of toe die kind uitglip nie.
Die gat is breed en diep genoeg. Steek die graaf in die grondhoop vas. By die rivier roep ’n kolgans.
Hoog in die lug draai ’n valk. Daar is turfgrond aan die soom van die nagrok.
Sal daar ’n dag aanbreek dat haar memorieboek verdof en sy vergeet hoe Tannie Lyla haar daardie nag
gewas en afgedroog het? Vir haar skoon pajamas aangetrek het terwyl sy tandklap van ontbering. By haar
gesit het tot sy weggly in die slaap.
Sy droom haar ma staan langs haar bed en hou haar hand vas. Maar dis ’n droom.
Toe sy wakker word, skyn die son op die toegetrekte gordyne. Mama Thandeka sit op die houtstoel
langs haar bed en sing.
Thula, mama, Thula; Sikusa ekhaya, Wasuka wakhala; Nkosi yam … Calm
down, mother, calm down; We took her home; She started crying; And said: Oh, my Lord.
Het Tannie Lyla in die nag gesê dis ’n seuntjie?
“Waar’s die kind?” fluister-vra sy vir Mama Thandeka.
“Hy’s doodgebore, Gertruida. Jou pa is met die lykie terug Kiepersolkloof toe.” ’n Koel vinger smeer
iets aan haar droë lippe. “Kom, drink bietjie water. Dan slaap jy nog ’n rukkietjie. Thula, alles is reg …”
Sy wou hom nie dóódmaak nie.
Sy wou hom net weghou uit hierdie wêreld.
*
Ek sit op die bankie onder die peperboom met my rooi kombers oor my kniekoppe en ek drink my
heuningbossietee. Hou glo kristalle uit die niere.
Laastere nag se wolke is weg. Dit gaan ’n warme dag raak. My bors is aan die toetrek. Vroegmôre het
Mabel met die hoesmedisyne voor my kom staan. Kwalik het ek die Turlingtonsmaak weggesluk met
mieliepap en suiker, of OuPieta kom hier aan. Lyk soos ’n hoender wat windaf wei. Skoon ’n hakkel in sy
praat.
“Thandeka,” sê hy, “hier’s groot moeilikheid aan die kom.”
Ek maak of ek niks wis nie. Maar Mabel spaai al van vroeg af. “Hoe só, OuPieta?”
Hy sê van Gertruida wat in haar nagrok besig is om ’n graf te spit naby aan waar ander dooies lê. En
dat sy wil weet waar lê haar tjint begrawe.
“Steur jou min.” Ek roep Mabel vir suikerwater. “Wees bly die ouman lê in Hermanus, want as sy
straks sy geraamte raak spit, dán gaan jy moeilikheid sien.”
“Thandeka, ek sien die ouman se portret lê in die tuin, en sy gesig is vol sjampoe. Ek wil ampers nie
weggaan op die werf nie, want een of ander tyd gaan die grootskreeu haar vat.”
“Kommer jou nie, OuPieta, Mabel is altyddeur naby.”
Toe hy wegloop, loop my hart by hom. Oordat ek weet hoe swaar hy gekry het die dag toe Abel met
die lykie op Kiepersolkloof aankom, en hy wat OuPieta is, moes die tjint se graf gespit het.
Die tyd toe Gertruida by Miss Lyla wegkruip, kom Abel en Missus Susarah terug van die see af. Haar
senuwees bly op hol. Al haar lus vir VLV-goeters verloor. Lae bloeddruk, sê sy vir die tennismense.
Eendag staan ons en koeksisters vleg in die kombuis, toe sê ek ons moet dink om Mabel vir ’n week
met die bus Oos-Londen toe te stuur. Geselskap vir Gertruida.
In die middel van ’n koeksister se vleggery, raak sy aan’t huile. Kort duskant die grootskreeu. Oor die
mense wat gaan uitvind van die skande. Oor Abel wat haar in die hotelkamer geslaan het, oordat sy hom
gedreig het as hy nie sy pype laat afbind nie. Sy smyt die halfgevlegte koeksister teen die kombuismuur en
skreeu dat sy die slegste ma in die wêreld is om Gertruida alleen te los in Oos-Londen. En dat sy voel sý
was die een wat Abel tot sonde gedryf het, oordat sy nie aldag met hom wou loop lê nie.
Jare se kwaad wat daardie dag uit haar uitgekom het.
“Missus Susarah,” sê ek oordat ek haar wil bedaar, “hoekom wag jy nie tot die bybie weggegee is vir
aanneem nie, dan gaan bly jy vir altyd by Miss Lyla? Dalk is dit beterder só vir almal se geluk.”
Sy sê die gelde wat sy by haar pa geërwe het, is ampers alles op. Alles in Kiepersolkloof ingesteek.
Bonsmaras, tuin, ploeë, swembad, trekkers, tennisbaan.
“Is dié!” skreeu sy, “dat Kiepersolkloof is waar hy vandag is!”
Keer op keer het Abel glo belowe om Gertruida uit te los, op die voorwaarde dat sy nog en nog geld
uithaal vir plaasgoeters.
“Waar het dit my gebring, Thandeka, wáár? Al die jare het ek gereken as ék my pa se sieklikheid kon
oorleef en regop bly, sal Gertruida ook regop anderkant uitkom. En vandag sit ek pennieloos uitgelewer
aan Abel!”
’n Vrou sonder geld is ’n vasgekeerde vrou.
Al wat ek vir haar kan doen, is om te sê ek sal die koeksisters alleen verder vleg; sy moet loop lê, ek
sal vir haar tee bring.
Toe kom Abel daardie diepnag hier by my huis aangeja met die kar. Hy sê ek moet my soetkys vinnig pak,
want daar’s fout in Oos-Londen. En Missus Susarah sê sy ry nêrenster sonder my nie.
Ek kry ’n draaierigheid in my kop, want Samuel het geglo as die dertiende van die maand op ’n Vrydag
val, moet jy jou oë alkante toe draai om uit te kyk vir die duiwel wat rondloop.
Missus Susarah sit op die agtersitplek langes my. Gryp met haar naels in my been vas. Abel jaag so
vinnig dat ek liewerster my oë toeknyp. Kort agter sonop loop ons by Miss Lyla se voordeur in.
“Die kind is dood,” sê sy. “Gertruida het my nie kom roep nie. Eers toe ek wakker word van die stoel
wat omval, het ek gaan kyk. Toe’s die kind klaar gebore.”
Abel staan soos een wat regop doodgegaan het. Gesig asgrys. Oë vol gebarste aartjies.
“Waar’s die tjint?” vra ek. Ons kan nie net rondstaan en heeltyd skrik nie. Iewerster moet mens beginte
om te doen wat gedoen moet kom.
“Op die bed in die spaarkamer.”