Authors: Annelie Botes
oorpraat en moeilikheid maak nie. Hy sal my kan sê waffer kant toe met my skrik oor Gertruida.
Ek skrik nie net oor Gertruida nie; ek skrik oor Mabel ook. Sy’s baie op die werf en in Kiepersolkloof
se huis. Ry oralster heen saam. En as ’n man se kop skeef gedraai het, draai hy nie maklik weer reguit nie.
Skewerder en skewerder. En met elke skeefdraaislag dink hy dis ’n manier van reguitdraai. Totdat hy
naderhands nie meer weet wat is draaitjiespad en wat is reguitpad nie.
Ek loop in onse huis in en kry Mabel waar sy in ’n Huis
genoot blaai. Mabel, vra ek, het jy al ooit ’n
wit man se tollie gesien? Sy lag en hou haar vuis voor haar mond. Ja, sê sy, lank terug, toe Anthonie
agter die amandelboom gepie het.
Toe wis ek daar’s nie skade by Mabel nie. Ek sê sy moet die
Huisgenoot
toemaak en bietjie vir my
luister. Want ek wil praat oor plekke en goeters wat nie ander mense se plekke en goeters is nie. Skaars
was ek kwartpad gepraat, toe sê sy sy weet al die goeters, want Missus Magriet het hulle lankal daarvan
vertel by die skool. Sy sê Missus Magriet sê jy moet klap en spoeg en skree en oorskinder as iemand met
jou privaat plekke lol, of daarna wil kyk, of syne vir jou wil wys. Jy moenie stilbly nie.
“Ek het al drie vuishoue by die skool uitgedeel, Mama, en elkere keer het ek ’n klip in my vuis gesit.
Mama,” Mabel draai haar vingers inmekaar soos wanneer sy op haar senuwees is, “ek ken ’n geheim oor
Gertruida … Maar Mama moenie vir Mevrou Susarah sê nie.”
Toe vertel Mabel my van die gaatjie wat Gertruida in die lap tussen haar Lulu-pop se bene gesny het.
Toe twyfel my kop nie meer oor hoekom Gertruida anderster geword het as wat sy altyd gewees het nie.
Laataand toe Mabel slaap, gooi ek ’n wildepruimstompie in die vuur. My kop praat met Missus
Susarah. Met Abel. Die umfundisi. Niemand antwoord nie. Ek praat met ’n ster wat ek rekent Samuel se
ster is. Ek hoor Samuel uit die ster uit sê: Thandeka, moenie in wit mense se sake grawe nie; is ewe goed
jy grawe jou eie graf.
Ek kyk in die vlamme en sing my mooiste lied om myselwers te troos. Saggietjies uit my agterkeel.
Nkosi sikelel’ iAfrika; Maluphakanyisw’ uphondo lwayo
… Here, seën Kiepersolkloof. Help dat Abel
se oorlog sal stil raak.
Intussentyd is baie jare verby. Vandag weet ek partykeers kies mens ’n ster om mee te praat, sommer
enige ster, en jy máák of die ster vir jou iets sê. Oordat jy te bang is om die waarheid met jou eie kop uit
te werk.
Doerie tyd het ek my kans afgewag met die pop. Lank gewag, want ek wou gesien het wat gebeur in die
tussentyd.
Skaars was Gertruida in sub A, toe vat ek eendag ’n naald en garing en stop die gaatjie tussen die pop
se bene. Gertruida kom van die koshuis af. Ek sê vir haar Lulu was siek deur die week, van
maagwerkings en koors. En dat ek die seerplek tussen haar bene gesond gemaak het.
Ek sien hoedat sy skrik.
Ek maak mooipraatjies met Gertruida. Ek sê ek het nie vir Lulu se ouma gesê nie, anderster kommer sy
haar. En sy’t nie nou tyd vir kommer nie, want sy’s besig om ’n double-breasted baadjie te stik vir die
VLV. Kommernis gaan haar verkeerd laat stik.
Sommer so gesê dat sy nie moet skrik vat nie.
Daardie aanskomende week vat sy die pop saam koshuis toe. Nooit weer huis toe gebring nie. Vir haar
ma gesê iemand het haar pop gesteel. Maak nie saak hóé Missus Susarah by die koshuismense gekerm het
om die gesteelde pop te soek nie. Niemand het van die pop geweet nie.
Eers omtrents twaalf jare later, toe Gertruida se bybie amper gebore moes kom en sy met haar
swaarderige lyf die berg uit is om Mabel te wys waar die kliphuis is, het Mabel vir my kom sê die pop is
in die kliphuis weggesteek. Toegedraai in ’n flenniekombersie; lê op ’n rooigras-matrassie.
Daardie aand by die vuur dink ek: Eendag, wanneer iNkosi die bokke en skape van mekaar wegkeer,
gaan die sweep hard op Abel se rug klap.
Waarheen sal Mabel gegaan het, nogal oor iets van Gertruida?
Daar sit Gertruida nou teen die kiepersol en verlang na ’n man. Ek wis nie hoekom iNkosi ’n vrou se
kop anderster gemaak het as ’n man s’n nie. ’n Man se kop is ampers heeltyd vol baklei en kooisake en
geld en karre. ’n Vrou se kop is ampers heeltyd vol trane. Hoedat dit binne-in Gertruida se kop lyk, moet
vreestelik wees.
iNkosi moet my bene vashou, maar Maandag gaan ek met my kierie afsukkel werf toe. Om vir
Gertruida te vertel van Imfenana en van donker goeters wat sy hoort te weet. Dan wil ek haar bietjie
vashou, en vir haar sing soos die dag by die windpomp.
Thula Thula Thula, baba, Thula sana … Toemaar, tjintjie, toemaar …
Ek gaan haar vashou, al wil sy van g’n niemand vasgehou of ge-thula wees nie. Loop sal ek loop. Al is
dit my laaste loop in die lewe.
Dalk moet ek Mabel Maandag saam met Missus Magriet dorp toe stuur. Om vir die man by die skool te
sê ek vra hy moet hiernatoe kom. Hy moenie groothuis toe gaan nie, hy moet reguit na my huis toe kom. Hy
ken die looppad rivierlanges, want lank terug was hy ook eendag hierso.
Die tyd toe Gertruida by Miss Lyla in Oos-Londen weggekruip het, sê Abel vir almal hy en Missus
Susarah gaan Oos-Londen toe om oog te hou oor die snyery aan Gertruida se seer skouer. Hulle wil kyk
dat sy rus en nie aspris haar skouer seermaak nie. En hulle wil haar skoolwerke saamneem dat sy nie
agterraak nie. Klompe stories opgemaak. Maar hulle gaan nie Oos-Londen toe nie. Sit al die tyd in ’n
hotel by die see om Missus Susarah se senuwees tot bedaring te kry.
Half en half my skuld dat haar senuwees wou ingee. Oor ek haar in die kombuis vasgekeer het, en gesê
het wat my hart wou gesê het. “Missus Susarah, jy moet sôre dat Abel se knaterpype afgebind word. So
nie, gaan die Here ’n grote straf oor jou bring.”
“Thandeka,” en sy huil dat die trane op die skonsdeeg drup, “ek wil nie meer lewe nie. Ek gaan ’n
bottel slaappille …”
“Jirretjie, Missus Susarah, en as jy aan die Oorkant wakker word, gaan jy vlamme toe. Help niks mens
hol uit een vuur binne-in ’n ander een in nie. Laat bind jy maar net Abel se knaterpype af, sommer by ’n
vreemde dokter daar waar julle gaan kuier.”
“Ek kastreer hom sommer met die vleismes … Die grootste present wat ek kan kry, is om nooit weer
by hom te slaap nie. Ek háát dit, Thandeka, ek wil opgooi elke keer as hy sy broek uittrek.”
“Is ’n ding daardie wat ’n vrou móét doen, Missus Susarah. Is maar só …”
Toe Abel-hulle weg is, stop die onderwyster die Saterdag-agtermiddag op die werf en loop
rivierlanges tot in my voorhuis. Om te vra waar is Gertruida. Mabel is Bosfontein se winkel toe en ek
moet die praatwerk doen. Ek dink aan Samuel wat gesê het ek moet my uithou uit wit mense se sake. Ek sê
Gertruida is in Oos-Londen met ’n slegte skouer wat gesny moet kom.
“Jy lieg dit,” sê hy, “ek wil vandág weet waar is Gertruida.”
Hy hou aan sê ek lieg. Toe ek sien ek is vas, slaan ek oor in my mama se taal en hou my oumens-
mallerig.
Toe gee hy op en ry.
Goeie ding gewees Mabel was Bosfontein se winkel toe. Netnoumaar vertel sy allester vir die
onderwyster.
Maandag moet Mabel vir hom loop sê ek wil met hom praat. Al moet hy in die nag kom as Gertruida
slaap. En al moet hy sy kar agter die knop by die laagwaterbruggie los om nie lig te maak nie.
Nee, ek moet liewerster die onderwyster uitlos. Laat ek op my kooi kom vir my agtermiddagslaap,
voor die dunbloed my laat omval. Hoeka is Mabel nie nou hier om my regop te help nie.
*
Sy skrik wakker uit haar dryfslaap onder die kiepersol. Drink koffie. Klap die grond van haar broek af.
As sy wil kliphuis
toe vir haar skoolkoffer se sleutel, moet sy aanstaltes maak met die eetkamer. Mabel en OuPieta sal
moet help met die swaar meubels.
Dis amper eenuur toe sy by die waaiertrap oploop.
Sy staan teen die deurkosyn van die sit-eetkamer aangeleun. Bekyk alles stadig. Spoggerige
kiaatmeubels. Bokhaargordyne. Wynrooi Van Dijk-matte. Sheffield-silwergerei. Venesiese kandelare.
Waterford-kristal waaruit in paleise gedrink word. Swart Steinway-konsertvleuelklavier. Tafelloper wat
Susarah van die Passiespele in Oberammergau gebring het. Persiese gebedematte.
Sy skryf ’n lettersin in die stof op die Steinway.
Deur die ure agteruit te draai, gru Gertruida
gedurigdeur.
Verspilde geld vir ’n klavier waarop niemand speel nie. Behalwe Abel, op doodsuip-
aande. Hy kon net twee liedere speel. Stokkerig, terwyl hy saamsing. “Al lê die berge nog so blou
…”
Dronker, droewiger.
O, boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles …
O, moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles
.
Hoor die plof tot in haar kamer wanneer hy van die stoel afneuk. Patetiese bondel op die Van Dijk-mat.
Susarah sit die strykkombers onder sy kop; hy moenie kots of kwyl op haar mat nie.
Haar veragting én bejammering was grensloos as hy so voor die Steinway lê.
Sy was seker so sewe of agt toe die groot reën in die winter gekom het. Dae lank gestort. Die werf het
soos ’n dam gelyk; die rivier het bome en beeste en klippe in ’n bruin kolk meegesleur. Die rivierbrug en
die laagwaterbruggie was onder water en Mama Thandeka kon nie by die werk kom nie. Hulle was
afgesny van die dorp. Toe die reën opklaar en die water begin wegsak, ry sy saam met haar pa veld toe
om die skade te bekyk.
’n Ent van die amandelbome af stop hy en sê hulle moet stap, want hy wil kyk wat verstop die leivoor,
en hy is bang die bakkie val vas. Hy sleep ’n versuipte skaap uit die leisloot. Sy spring oor die sloot en
speel tussen die klawer; verbeel haar sy is ’n Nederlandse boerin met ’n kappie en voorskoot en ’n
mandjie kaas wat sy in die dorp wil gaan verkoop.
Skielik is daar uit die bloute ’n slag.
Hoe hy so gou by haar gekom het, weet sy nie. Gryp haar, gooi haar oor sy skouer. Hardloop deur die
klawer, spring oor die leisloot. In die hardloop hoor sy water raas. Toe hy haar by die bakkie neersit en
sy kyk terug, is die Nederlandse boerin se klawerveld ’n kolkende bruin see. Bo-oor die leisloot, lek aan
die stamme van die amandelbome.
“Ek het die keerwal hoor breek.” Uitasem. “Hemel, Truia, dit was amper …”
Hy hang sy parkabaadjie om haar en hulle ry huis toe. Hy maak warmsjokolade, want sy rittel. Terwyl
sy drink, kap haar tande teen die beker. Ver weg hoor sy Susarah se maag werk.
Al haat sy hom, gooi sy altyd wintermaande ’n kombers oor die bondel by die Steinway.
Later jare het sy in haar voorgeskrewe Senior verseboek ’n gedig gelees, “Die kranksinnige” van S.J.
Pretorius. Pretorius het na so ’n normale van geklink. Soos Strydom. Het die digter wérklik gevoel soos
in sy gedig? Telkens as sy Abel toegooi, het sy die gedig woordeloos opgesê.
In hierdie sel
agter die grense
van die vel en die hoë
vensters van die oë
is twee mense:
die een is gek,
die ander, ek.
Dis hy wat kerm en gil
maar ek is bang en stil.
In elke klein uur van die nag
veg ek teen hom met minder krag
en as hy wen dan skree hy luid
sy wrok teen God en wêreld uit.
In hierdie klein vertrek
van vlees en been,
is twee. Die een
is gek,
die ander, Ek.
Maak dit saak of jou van Pretorius, Strydom, Botha of Schoeman is? Woon daar in elke mens twéé
mense? ’n Regwyse, en ’n kranksinnige. Iemand wat vir jou warmsjokolade maak as jy rittel van skok.
Dieselfde iemand, gehul in ’n ander vel, is die slymerige padda in jou bed, wat woedende aansprake op
jou maak.
Frogs arrive
With an ugly fury.
You are my judge.
You are my jury.
Haar oë gly oor die imposante sit-eetkamer.
Dit was ’n veilige hawe. Solank hier gaste is, was sy beskermd.
“Kom, Gertruida,” sê hy voor al die mense wat genooi is vir Sondagmiddagete, “staan op die
klavierstoel, dan sing jy jou speelskoolliedjie van die perdjie wat galop.”
“Nee, ek wil nie.”
“Ag toe, Gertruida,” sê Andrea se ma, en nog ander tannies ook.
Sy mik om uit te hardloop. Haar pa vang haar en tel haar op die klavierstoel. Toe niemand sy oë sien
nie, net sy, verander sy oë in kwaai wolf-oë. Síng, sis hy by haar oor. Sy trek haar bobby socks op, vryf
die voorpant van haar nuwe tartan-winterskerkrokkie plat. Sluk die traanspoeg weg. Die mense raak soos
wasem deur haar trane. Die sing kom sag by haar keel uit.
Hop, hop, hop!
Perdjie loop galop!
Oor die klippe
deur die slote …
Sy spring van die klavierstoel af en hardloop weg. Kruip in die ontbythoekie weg. Niemand sal haar daar
soek nie. Nie eens Mama Thandeka nie, want dis Mama Thandeka se af naweek. Sit net tjoep-tjoepstil.
Haar ma en Andrea se ma kom maak tee. Sy hoor wat haar ma vir die tannie sê. Al verstaan sy nie
alles nie, verstaan sy álles.
Is nie stories wat ek opmaak nie! wil sy skree. Maar sy skree nie.
Later is haar ma-hulle weg, en dis koud onder die tafel. Haar blaas is vol. Sy is honger. Toe niemand