Thula-thula (afr) (8 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

BOOK: Thula-thula (afr)
11.65Mb size Format: txt, pdf, ePub

Terwyl die bouers bou, het haar ma gestik aan wit gordyne, wit toiletstel. Waslappe omhekel met wit

gare. Borduur satynblomme op wit handdoeke.

“Kom kyk of jy hiervan hou, Gertruida. Ek maak ekstra van alles, dan sit jy nooit sonder skoon

badkamergoed nie. Moet ek die waslappe ook borduur?”

“Ek gee nie om nie. Maak soos Ma wil.”

Soms het sy gewonder watse gedagtes haar ma in die lap vasstik. Wie is haar ma regtig? Hoekom hou

sy haar doof?

Hoekom gaan bly sy nie in die tuinwoonstel by Tannie Lyla nie? Tannie Lyla behoort aan ’n leeskring

en musiekvereniging; gaan teater toe. Op die dorp is ook ’n leeskring en ’n musiekvereniging, maar dis ’n

skinderkliek. By Tannie Lyla hoef haar ma nie onder Abel se baasskap te vergaan nie.

Nee. As haar ma weggaan, bly sy alleen by Abel agter. Dan moet sy haar ma se vrag aan klappe en

slaapkamergoed ook dra.

Tog het sy naby haar ma gevoel met die naaldwerkdoenery. Druppels deernis. Saam tee drink,

konfyttertjies eet. Die vrou agter die naaldwerkmasjien was haar má. Nie die hardhorende regter of die

stom aandadige nie.

Op Maandag, 3 Februarie 2003, die dag toe Anthonie sou verjaar, en sy dood in somberte herdenk is,

was die badkamer klaar. Badkamer sonder sleutel. Deursigtige stortdeure, sodat Abel op die wit

rottangstoel kan sit en kyk terwyl sy stort.

Binne dae ná die badkamer klaar was, was kooipistertyd verby.

Die oggend toe sy wakker word, kon sy nie ophou om haar palms oor die laken te vryf nie. Sy het met

geskreefde oë na die plafon gestaar; in haar gedagtes teen die plafon geskryf. Dit red Gertruida dat die

rugruiter dit gee. Die foltering om op ’n plastieklaken te slaap en soggens met lakens en pajamas

waskamer toe te sluip, was verby.

Iewers ín haar was daar nog altyd die wete dat die dag sou kom wanneer sy die brug oorsteek. As sy in

die maande by Tannie Lyla, toe sy swanger was, met konstante drukking op haar blaas, elke oggend kon

wakker word in ’n droë bed, dan kán sy die brug oorsteek. Maar ’n vreesding in Kiepersolkloof se huis

het haar weggehou van die brug. Dieselfde obsessie is Maandae saam met haar koshuis toe.

Vrees dat ’n vloerplank kraak, en Abel wakker raak. Vrees om toiletpapier af te rol en die toilet te

spoel, om ’n lig aan te sit. Vrees dat as sy hom wakker maak met die geringste geluid, hy haar in die toilet

ook sal teister. In die spokerige koshuisgange kon sy nie sien of daar dalk ’n likkewaan is wat haar inwag

nie.

Tot die einde van standerd vyf, voor Mama Thandeka te oud geword het vir die huiswerk, het Mama

Thandeka haar matras teen die buitetoilet se muur in die son laat staan. Al is Mabel soos haar suster, was

sy skaam. Toe steel sy die stuk plastiek wat haar ma oor die eetkamertafel sit wanneer sy materiaal knip,

en vou dit oor haar matras. Dit het die matras drooggehou, maar sy het snags in ’n koue plas gelê.

Abel was slim. Hy het altyd opgedaag voor die nag oud word.

“Ek gaan jou oupa se piepotjie en ’n rol papier onder jou bed sit, Gertruida,” het Mabel gesê. “As jy

snags droom jy pie, moet jy jouself vinnig wakker maak, dan pie jy eerderder in die pot. Skuif hom net

onder die bed in, ek sal hom soggens leegmaak sonder dat iemand sien.”

Daardie aand droom sy sy pie. Spring op; haar pajamabroek is droog. Trek die koue metaalpot uit en

hurk. Die straal tref die bodem hoorbaar. Juis toe draai die deurknop. Sy kan nie afknyp nie. Dit spat oor

haar voete.

Die potsittery was vir Abel só mooi. Siekmooi.

Twee keer daarná moes sy bo-oor sy hand in die pot pie. Toe begrawe sy die pot in ’n miershoop in

die garingblaaikamp.

Die nuwe badkamer was net háre. Sy kon die voorreg smaak om nooit snags by haar kamer uit te gaan vir

nagnood nie. ’n Vrypas om die brug moeiteloos oor te steek.

Die riviervinke begin raas. Sal daar ooit ’n dag kom waarop sy van haarself sal hou?

Kry mens ooit die smet afgewas? Of skuur dit stadig af, lagie vir lagie?

Op skool het sy in biologie geleer die mens vervel elke dertig dae. ’n Vellagie is deursigtig dun.

Hoeveel vellagies diep lê haar seer? Dom Gertruida, vir wie die kinders pouses die koggelrympie sing,

tot sy wil moor: …
Jy kan my nie vang nie … Jy kan tog nie stry nie … dom Gertruida Strydom
… As

sy hulle jaag, spat hulle uiteen en koggel op ’n afstand:
Jy kan my nie vang nie … sies, jy ruik na

bokkoms … stink Gertruida Strydom …

Snags eggo die tergende wysie in jou drome.

Sy skryf haar naam in die klam sand met ’n stokkie.

Ineens, vir die eerste keer sedert graad elf toe sy haar volle name moes gebruik om die sonnet vir

Braham Fourie te skryf, wíl sy haar volle name skryf. Ouma Strydom se outydse spotname. Asof sy wil

erkenning gee aan die volle s y. ´

G E R T R U I D A S U S A N N A H J A K O M I N A

Toe sy die strepie in die laaste A van Jakomina trek, vloei die woorde.

Sinne maak help dat ruitertyd minder pynloos verbygaan. Toe sy jonger was, het Tertia en Rita en

Gerard en Dieter soms teruggekom uit die klowe, en haar help sinne bou. Maar dis lankal dat sy weet

hulle was opmaakmense.

Konsentreer om geen verbode letter te gebruik nie.

Eendag gaan ek gesond raak. Doodvee. Ek kán ’n toekoms hê.
Doodvee.
Miskien het ek die matras

natgemaak uit oortuiging dat ek móét stink.
Doodvee.

Toe die son aan die bergrant vat, klap sy die growwe sand van haar oorpakbroek af. En stap huis toe.

Onder die kiepersol by die lusernland se hekkie staan ’n glasbottel lou swart koffie. Sy drink die helfte;

bêre die res vir wanneer sy weer iets eet.

Die stoeptrappe lê soos rye haaitande voor haar. Die tang lê steeds op die onderste trap. Die oomblik

toe sy buk om dit op te tel, breek die son bo die bergrant uit. En presies toe, met een hou van die tang,

slaan sy ’n pot met hen-en-kuikens dat dit oopbars. Weer en weer. Die kleiskerwe vlieg. Sy hoor haarself

gil dat die klowe eggo. Dônnerse pot wat Susarah geverf het! Dônnerse trap waar haar hel twee-en-

twintig jaar gelede begin het! Sy besef nie die koffiebottel val uit haar hand en breek op die trap nie.

Slaan tot net die bodem en grond vol wasagtige bolletjies oorbly. Dônnerse Abel Strydom wat haar

menswees gesteel het! Stamp die wortelklos van die pilaar af, en skop dit tot op die grasperk.

Sy skree tot sy hoes. Die tang val uit haar hand. Sy hoor nie die vleipaddas en die voëls nie. Net die

dreuning in haar kop.

*

Vanmôre het ek swaar opgestaan. Stywe litte. Is bitter as die oudheid jou beginte opeet. Mabel kla oor die

nat hout en sê ons moet liewerster nie vandag vuurmaak in die huis nie, anderster ruik al die klere in die

kaste na kaia. Sy sê ons hét mos ’n stoof. Maar ek sê ek wil ’n binnevuur hê. Ek sê nie vir haar dis oor ek

na my mama verlang nie.

Toe die vuur brand, help sy my tot by die kombuistafel. “Ikhephu liyanyibilika, die sneeu smelt,” sê ek

ingedagte.

Sy bring my koffie. “Mama is deurmekaar. Dit het gister gereent, nie gesneeu nie.”

“Ek praat van die sneeu in Gertruida se hart. Het jy gehoor hoe skreeu sy uit haar agterkeel toe die son

uitkom?”

“Ek kommer oor haar, Mama. Sy sê sy skiet my as ek op die werf kom.”

“Bly weg op die werf, Mabel, moenie loop skoor nie.”

“Sy sê sy wil alleen wees om huis skoon te maak. Glo stink dit na Abel en Susarah. Smaak my sy wil

die lakengoed verbrand. Vaderland, ek wis nie aldag waffer kant toe met Gertruida nie.”

“Jy sal sien, Gertruida gaan nog met die onderwyster trou. En ’n paar tjinnertjies kry ook.”

“Mama se kop is wragtig aan die afgaan. Gertruida sal nooit man vat nie.”

So drie jare terug kom Gertruida eendag hier met ’n sak uitjies. Sy sê haar ma sê ek moet

slaphakskeentjies kook, en kyk dat OuPieta helfte kry.

“Is jy al liefgeraak vir die onderwyster, Gertruida?” vra ek aspris. Partykeers moet mens die woorde

uit Gertruida trek.

“Ja, Mama Thandeka, ek is lief vir hom.”

“Wat staan dan tussen julle twee en trou? Dan vat jy al jou goeters en loop bly by hom in sy dorpshuis.

En julle kry tjinnertjies.”

Sy sit botstil langes die houtkas. Draai haar hare om haar voorvinger tot dit soos varkstertjies lyk. Is

haar manier as sy diep dink. Mens moet net wag, haar praat sal kom.

“Nee, Mama Thandeka,” sê sy en draai nog ’n varkstertjie, “ek sal opgooi as ’n man my moet soen.

Laat staan nog om kaal langs hom …”

“Gertruida, jy moet wegkom hierso van Kiepersolkloof af. Kry vir jou ’n werk op die dorp voordat

…”

“As ek hulle doodskiet, moet Mabel nie vir die polisie wys waar’s die kliphuis nie. Ek sal daar wees,

en soos ’n bobbejaan in die berge lewe. Dis te sê as ek nie myself ook doodskiet nie.”

“Jy moenie sulke goeters praat nie, Gertruida. Jy maak my hart ongerus.”

“My ma het kondensmelk in die uiesak gesit om vir Pietertjie soet-uitjies te maak. Sala kahle, Mama

Thandeka.”

“Sala kahle, Gertruida.”

“Ek loop skoor nie op die werf nie, ek spaai net. Ek het vir Gertruida ’n bottel koffie loop neersit.

Maar ek gaan ’n brief skrywe om te sê enigiets in die tuin sal ék skoonmaak.”

Mabel het ’n sawwe hart. Is net vir Abel dat sy minder oorhet as vir die vuilgoed voor ’n besem. Ook

nie altyd só gewees nie. Is van die tyd dat Gertruida, seker was sy so agt jare oud, haar bloedrooi

privaatjie vir Mabel gewys het en gesê het sy kry nie gepie nie, dit brand. Daardie tyd wil ek nog nie

gehad het Mabel moet dié goeters weet nie, al was sy al veertien jare oud. Oordat dit lelike sake is. Ek

was bang sy loop vertel dit by die skool, en netnou sê hulle sy skinder van ’n vername man en skop haar

uit by die skool.

Slukkie koffie. “Mabel, daar’s jare se kwaad in Gertruida. Haar geskreeu beteken die sneeu in haar

hart beginte smelt. Dan sal sy beterder raak.”

“Wil Mama mieliepap of oatspap hê?”

“Net ’n sny brood met van die heuningkoek wat Abel laastere week gebring het.”

Dan kan ek die heuningkoek kou tot net ’n wasklontjie oorbly, en dit heeldag in my mond hou. Om te

onthou van die soet wat Abel my besôre het. Bittertes ook.

“Vandag moet jy die hokhaantjie slag, sodat daar genoeg vleis vir Gertruida ook is. Jy moet agter haar

kyk tot haar hardste skreeue uit is. Straks vat dit baie dae.”

Doerie jare toe ek uitgeswel het met Mabel, het ek met Samuel gesien hoe kan die sneeu in ’n man se

hart saampak. Waffer man se hart sal nié sneeu maak as sy vrou by ’n ander man lê nie? Op die kroon is

dit ’n ryk wit man met ’n woord wat wet is.

“Jy hoort jou oë uit hulle kasse te skaam, Thandeka! Jy hoort gestenig te word, soos die slegte vrou in

die Bybel. Rekent, om met ’n wit man op m´y kooi te lê, wyl ek my skoene deurloop om sy beeste

bymekaar te jaag?” Lelik gewees om Samuel so kwaad te sien, en te weet ék het dit oor hom gebring. “Is

verby, Samuel. Ek en Abel het als uitgepraat op die bank onder die peperboom …”

“En die tjint wat gebore moet kom? En hoe sal ek weet wanneer kom kruip hy weer in my kooi in?”

“Dit was net die een keer, Samuel. En daar gaan nie nog ’n keer wees nie. Vat vandag my woord. Abel

het gesê hy sal sôre vir alles wat die tjint in die lewe sal nodig …”

“Jirre, Thandeka, is so goed of jy’t met jou eie seunstjint loop lê! ”

“Ek wis dit, Samuel, en ek buig laag voor die Here.”

“En Hy moet maar net vergewe? Waar was jou verstand, Thandeka? Hoe’t jou kop gedink toe jy jou

klere uittrek en op jou rug loop lê om …?”

“My kop het nie gedink nie, Samuel. Maar agterna het my kop beginte dink.”

Hoe verduidelik mens ’n ding wat jyself nie verstaan nie?

Dit was daardie dag Missus Susarah se verjaarsdag, en sy’t in Oos-Londen gesit. Mos die tyd toe sy

weggeloop het met Anthonie en al haar soetkyste. Die agtermiddag is die ouman boerevergadering toe, en

in sy allenigheid het Abel by my kombuistafel kom sit met bloedrooi oë.

“Ek mis haar en Anthonie, Mama Thandeka.” Sware sug wat uit sy bors kom. “Ek vat sommer die

geweer en gaan skiet my harsings weg agter in die garingblaaikamp.”

“Moenie onnooslik wees nie, Abel. Gee tyd, sy sal weer terugkom.”

Ek het die koffiesak uitgeskud by die trappies, en toe ek weer in die kombuis kom, sit hy en huil. Toe

hou ek my mama-arms uit en druk hom teen my vas soos toe hy ’n kleine tjint was. Ek vrywe sy rug; hy sit

sy kop teen my sagte tiete neer.

Is maklik om agterna die skuld op die duiwel te wil pak en te sê hy het vat gekry op ons. Maar die

duiwel het niks daarmee te make gehad nie. Net onsselwers. En al sal ek dit nooit vir ’n ander mens sê

nie, is daar in my agterkop die wens gewees om ’n tjint te hê. Want elkere mama soek ’n tjint.

Samuel se kwaad het sy hart koud gemaak vir my. Maar ek het my warm hand op hom gesit. Kort

rukkietjies, totdat sy sneeu gesmelt het.

Niemand wis van my sneeuhart nie. Baie nagte is ek buitentoe as Samuel al slaap, om voor iNkosi te

buig. Want Hy’t my Abel se mama gemaak. En ’n mama loop lê nie met haar tjint nie. Al was dit net een

keer, maak nie saak nie. Is ewe verkeerd as Abel wat met Gertruida loop lê.

Tot vandag toe moet ek partykeers my sneeu wegskraap, want oudwees spaar jou nie uit van sneeu wat

altyddeur terugkom nie. Hoe kan ’n vrou in een keer se lê vat? Wat as ek nié gevat het nie, en nooit vir

Mabel gehad het nie? Sneeu wat saampak, dieselfde sneeu wat weer smelt. So werk dit maar.

Maar ’n vrou se sneeuhart is anderster as ’n man s’n, oordát sy ’n vrou is. Sy wag nie tot haar hele hart

Other books

The Magic Thief by Sarah Prineas
Profane Men by Rex Miller
The Iron Swamp by J V Wordsworth
The Poison Factory by Oisín McGann
Unseen by Mari Jungstedt