Thula-thula (afr) (3 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

BOOK: Thula-thula (afr)
6.51Mb size Format: txt, pdf, ePub

Rivierkant toe is die paddas ’n massakoor. Jare lank al is haar kerk onder by die rivier. Vandat sy in

standerd vier die Kwakerboek in die dorpsbiblioteek ontdek het, gaan sy nie kerk of Sondagskool toe nie.

Sondae as dit rytyd is, hardloop sy weg. Abel jaag en vang haar en stop haar in die kar. Sy raak langs die

pad naar op sy kerkbaadjie. In die kerk skop-skop sy teen die bank voor haar. Susarah raps haar been.

Dan huil sy soos iemand wat vermoor word terwyl die dominee die Tien Gebooie lees. Of sy krap aspris

in haar neus. Wil tydens elke diens toilet toe gaan. Klou aan die bank voor haar vas as dit tyd is om in

Sondagskoolgroepies te verdeel.

Sy wil nie. Sy sal nie. Want sy hou nie van die kerk of van God nie. Want Hy los haar snags alleen, al

bid sy dwarsdeur die nag. God roep haar pa as ’n diaken en maak haar ma ’n belangrike vrou by die

ACVV. As Hy regtig slim is en oral kan sien, hoekom straf Hy hulle nie? Wat help dit sy druk ’n

skoenpunt onder haar kamerdeur in, en vra God moet die deur toehou? Wat help dit sy sê vir haar ma van

die lelike dinge, en haar ma klap haar teen die skouer en sê sy moet ophou stories uitdink?

Die biblioteekboek sê Kwakers glo nie in dominees en kerke nie. Dalk is dit beter om ’n Kwaker te

wees, want dit help haar niks om Jesus se kind te wees nie. Die boek sê Kwakers sit net botstil en wag,

maak nie saak waarvoor nie. Dís wat sy wil doen: by die rivier sit en wag dat die gedruis in haar kop stil

raak. Maar dit raak nooit stil nie. Elke dag raak dit deurmekaarder.

Toe dit atletiekdag was, het sy onder haar pa se bakkie weggekruip. Sy wou nie aflos hardloop nie.

Haar pietermuis was seer, want die vorige aand het haar pa gesê hulle moet speel haar pietermuis is ’n

stoofpot, en hy kook ’n jong murgpampoentjie in die pot. Dan roer en roer hy die pampoentjie. Dis bietjie

lekker, en bietjie seer. Toe sy die oggend pie, brand haar pietermuis so erg dat sy afknyp. Haar pietermuis

jeuk; sy gaan nié aflos hardloop nie. Toe luister sy wat skinder die tannies wat langs die bakkie op ’n

kombers onder ’n swarthoutboom sit.

Die kind se aweregsheid moet ’n bitter pil wees vir Abel en Susarah. Abel sê hy kan nie elke Sondag

in sy kerkpak agter haar aanhardloop nie. Beter om haar by die bediende te los. Sy’s só onstigtelik in die

kerk. Susarah sê sy’s veilig as sy so in die berge dwaal, want die Jack Russell pas haar op. Maar ek weet

darem nie … Nou moet die aflosse gehardloop word, en sy verdwyn soos ’n groot speld. Abel en Susarah

moet ’n harde lewe hê onder haar. Sy was so ’n oulike dogtertjie, maar ná Anthonie verongeluk het, het sy

soos handomkeer verander.

Sy hou nooit vir die paddas kerk nie, sit net op die sand. Luister na die stemme in haar kop. Partykeer

klink dit soos perdehoewe, of soos droë blare. Partykeer tik daar ’n horlosie in haar kop, al is sy ver van

’n horlosie af. Dan huil sy. En sy vloek. Skuur haar hande met sand tot dit brand en sy dink die visreuk is

weg. Of sy skryf met ’n rietspaander in die sand; vee dit weer dood.

Sy sukkel om haar woorde met ander mense te deel, want dit voel of daar ’n rou wors in haar keel

vassit. Om te vergeet van die wors en omdat sy nie ’n stoofpot wil wees nie, skryf sy nog en nog woorde

en sinne in die sand.

Vee dood.

Skryf.

Vee dood.

Ná matriek sit sy en Braham een Vrydagmiddag by die hoektafel in Die Koffiekan, weggesteek agter

die nooienshaarvaring. As die hoektafel beset is, wag sy tot die mense opstaan. Nét die hoektafel is reg.

Sy wil nie omring en vasgekeer word nie, en sy wil só sit dat sy die restaurantdeur kan sien. As sy wil

vlug, moet sy weet waar is die deur.

“Die mense skinder oor ons, Braham.”

“In ’n klein dorpie skinder almal oor alles.”

“Hulle sê jy was my onderwyser, en jy’s van lotjie getik om met mý …”

“Laat hulle sê wat hulle wil.” Hy stryk oor haar voorvingerkneukels. Sy ruk weg. “Ek wíl by jou sit.

Ek steur my nie aan die mense nie.”

Vat die pen uit die rekeningomslag, krabbel in bykans onleesbare lettertjies agterop die rekening.

Gebruik nét die letters van haar naam.
Uitdra. Tirade. Digter. Terdeë.
Dis ontsnapping. Elke woord wat

sy skryf, krap sy dood.

“Gertruida, as jy nie die tafel tien maal met ’n servet afvee nie, skryf jy op die rekening. Kyk na my,

Gertruida …” Hy sit sy vinger onder haar ken.

“Moenie aan my raak nie, Braham.” Druk sy hand weg. “Jy weet ek gril.”

“Laat ek sien wat jy skryf …”

Skuif die rekening na hom toe; alles is onleesbaar.

“Wat staan onder die ink, Gertruida?”

“Dat ek jou wíl liefhê.”

“Het my dan lief, toe? Gaan volgende Vrydagaand saam met my hospitaaldans toe?”

Vou die servet in ’n rolletjie; vee oor die tafel. Hy sit sy hand op haar gewrig. Dit kielie-skok tot in

haar blaas. Sy walg as haar blaas kielie. “Ek besit nie ’n rok nie. Ek kan nie dans nie. En ek sal

weghardloop as iemand ’n hele aand lank so naby my is.”

“Tot waar wil jy hardloop, Gertruida, en hoekom?”

Teken sirkels met ’n tandestokkie op die tafel. “Ek sal nooit ophou hardloop nie.” Sy sit genoeg geld in

die rekeningomslag. “Ek moet gaan, Braham. My pa wag vir die grassnyerlem en dis amper melktyd.”

Hy haal die note uit, hou dit na haar. “Dis my betaalbeurt. Sit nog ’n rukkie, toe?”

Sy sit die note onder die blompotjie. “Nie vandag nie. Ek kom nie Vrydag dorp toe nie, moenie vir my

wag nie.”

Op die plaaspad draai sy die venster toe teen die warrelstof. Dit voel of sy op iets slymerig sit. Iets

wat uit haar onderlyf kom waaroor sy geen beheer het nie. Sy slaan op die stuurwiel, haar stem galm in

die kajuit. Abel Strydom, wat het jy aan my gedoen! Wat doen jy stééds aan my! Ek wens jy vrek! En ek

wens ék vrek!

Ná daardie dag in Die Koffiekan het sy met haar vinger op die plastiektafeldoek geskryf, sodat haar

woorde vir Braham duister bly.

Die eerste letter wat sy kon skryf, was ’n A. Vir Anthonie. Dit het soos ’n spitsdakhuis sonder

skoorsteen gelyk. Sy het dit op Anthonie se skoolboeke gesien as hy naweke van die koshuis af gekom het.

Anthonie het nie omgegee as sy deur sy skoolboeke blaai nie. Hy was ses jaar ouer as sy. Hy en Mabel

was in dieselfde standerd. Maar hy was in die dorpskool, en Mabel was by tannie Magriet van Bosfontein

in die plaasskooltjie.

Eers in 1992, sewe jaar ná Anthonie se dood, is Mabel ook dorpskool toe. Mabel was haar engel in

die koshuis en by die skool. Want Mabel het altyd vir haar baklei.

Los vir Gertruida uit, of ek slaan jou bek stukkend!

Jý aan my slaan, bleddie common klimeid!

´Die Vrydag sit Mabel detensie oor sy sê die wit kind het ’n bek. Maar die wit kind gaan huis toe, al

het sy gesê “common klimeid”.

Daar was nog talle sulke voorvalle. Maar Mabel het haar staan gestaan.

Sy was vier en Anthonie tien toe hy dood is. Al wat sy van sy begrafnis onthou, is ’n papier met ligpers

Jesushande, en die A van sy naam, net onder die Jesushande. Sy moet ophou tob oor Anthonie. Hy is al

meer as twee-en-twintig jaar dood. En sy het hom nie regtig geken nie. Al wat sy ken, is die ontgogeling

wat ná sy dood soos ’n swart kombers oor Kiepersolkloof kom lê het.

Tog, dikwels droom sy ontstellend helder van Anthonie. Van die geboortemerkie op sy voorarm; toe sy

toonnael afgeval het nadat die muisvalletjie dit geslaan het. Van ’n geelen-groen John Deere-

verjaardagkoek. Wanneer sy wakker word, is haar wimpers nat, en haar gemoed droef. Maar in die

woesteny van haar verste onthoue weet sy dis nie oor Anthonie dat sy hartseer is nie. Dis oor iets in

haarself.

Niemand het haar ooit van Anthonie se dood vertel nie. Maar sy het alles gehoor wanneer Abel en

Susarah baklei. Veral as Abel dronk was. Dit het min gebeur dat hy hom uit sy verstand suip. Maar dan

was dit rasend-verskriklik. Eers as die dronkverdriet inskop, het hy begin kalmeer.

Elke baklei het by Anthonie se dood gaan draai, dié dat sy ver meer weet as wat hulle gedink het.

Dom Gertruida.

As hulle maar kon weet hoe slim sy is.

Die reën is weg; die wind het bedaar. Misvlies oor die beboste bergvoue. Behalwe vir die paddas is dit

heiligstil, asof die aarde ophou asemhaal het. Dit rook nie meer by Mama Thandeka-hulle se huis nie.

Sy stap waenhuis toe om die winkelgoed in die bakkie te kry. Daar is water in haar skoene en die

begrafnishemp kleef teen haar borste. Sy wil nie die kos in die huis inneem nie. Sy sal dit aan die

koeltekant van die watertenk bêre, en die brood met haar knipmes sny. Die knipmes was al meermale haar

redding as sy in die veld swerf.

Haar pa het die mes in 1992, toe sy in standerd twee was, uit Switserland gebring toe hy terugkom van

’n landboutoer. Die datum staan in die flappie van die leersakkie. Dieselfde jaar het sy vir haar juffrou

gevra of sy die klas se verklarende woordeboek vir die middag mag koshuis toe neem. Sy wou kyk wat

beteken allergie, terapie, geneties, trauma, masturbasie, omdat dit al lankal in haar kop rondmaal.

“Hoekom soek jy dáárdie woorde, Gertruida?” het die juffrou met groot oë gevra.

“Sommer.”

“Moenie jok nie, Gertruida, waar kom jy daaraan?”

“Ek het dit gedroom.”

Sy kon sien die juffrou gaan wéér aan haar torring. Sy wil nie praat nie. Haar pa sê sy mág nie praat

nie. Toe verbeel sy haar daar is ’n slymwors in haar keel. En sy gooi voor die juffrou se voete op.

Opgooi is maklik as sy aan slymwors dink. Dan bekommer die juffrou haar oor jou en gee jou jou sin. Dis

lekker as iemand oor jou bekommerd is. Dit maak jou belangrik as jy die woordeboek mag koshuis toe

neem.

Allergie. Oorgevoeligheid vir allergene.

Terapie. Behandeling van siektes, kwale.

Geneties. Betreffende die genese van iets.

Trauma. Verwonding, letsel.

Masturbasie. Seksuele selfbevrediging.

Sy het min daarvan verstaan. Dit het haar laat dink aan wanneer haar pa die Bonsmaras brandmerk. Sy

kry altyd die beeste jammer. Sy wens sy was ’n bees, dan hoef sy nie snags in haar kamer te slaap nie. ’n

Brandmerk word later gesond. Die dinge wat in haar kamer gebeur, maak haar siek.

Toe sy die bakkiedeur oopmaak, ruik sy lemoene. Haar kop duisel van hongerte. Van deurmekaar dink;

van óú prentjies herroep. Van onsekerheid of dít wat sy onthou die waarheid is. Het sommige dinge nie

dalk ánders gebeur nie, of op ander tye? Hoe kon sy sulke groot woorde vir so lank onthou? Kon sy regtig

lees toe sy skool toe is? Of onthou sy dit met die begrip van ’n kind? Of kleur sy haar kindertyd in met die

kennis en insig en vaardigheid van ’n grootmens?

Watter verskil maak die waar en wanneer? Want niks en niemand sal die mistige wolk van

herinneringe uit haar verstand kan wegvee nie. Skrikgoed. Naggoed. Roerende skadu’s wat soos

reusehande lyk teen die dowwe gordyne van haar verste terugonthoue. Of soos boomtakke. Soms is dit

reuke en geluide. Kon sy haar dit alles verbeel?

Nee. Haar ma-hulle het dit net voortdurend by haar ingeprent dat sy haar verbeel.

Ondanks die reën voel haar arms vuil waar die mense by die begrafnistee aan haar geraak het. Toe sy

die winkelsak op die tenk se voetstuk neersit, lui die telefoon weer. Sê nou dis Braham? Sy woorde by

die graf draal in haar: Laat weet as jy my nodig het …

Sy het hom nodig.

Sy wíl hom nie nodig hê nie.

Sy haal die Victorinox uit haar broeksak. Vryf die rooi hef blink.

Die jaar toe sy die Victorinox gekry het, was ook die jaar toe haar ma haar uit die kerk gevat en sy buite

pak gekry het omdat sy so hard gesing het met “Op berge en in dale”. Sy kyk nooit in die gesangeboek nie,

want dan moet sy styf teen haar ma staan om uit een boek te sing. Sy hou nie van haar ma nie. Dis beter om

al die gesange in jou kop te bêre, dan hoef jy nie teenaan jou ma te staan nie.

Toe vat haar ma haar buitetoe en sê sy terg die Here as sy sing “Albertus dra sandale”. Sy het nie

aspris verkeerd gesing nie. Sy het gedink dis wat die grootmense sing. Van toe af, as hulle “Op berge en

in dale” sing, het sy in haar kop weggehardloop Kiepersolkloof toe. Berge en dale toe.

Die volgende September toe haar ma se tweelingsuster, Tannie Lyla, kom kuier het, het sy vir haar ’n

gesangeboek as present gebring. Dis lekker om jou eie gesangeboek te hê. Dan kan jy die woorde self

lees, en jy hoef nie naby jou ma te staan nie.

Sy was só bly oor haar Victorinox met die rooi hef wat in die swart leersakkie aan haar broekrek kan

hang.

“Kom,” sê haar pa, “sit op my knie, dan wys ek jou wat die mes kan doen. Die Switsers is meesters

met messe maak. Dis ’n Victorinox. Kom.” Klap op sy knie asof sy ’n hond is wat teen hom moet

opspring. “Niemand in die skool het só ’n duur Switserse army-mes soos jy nie.”

Sy wou nie op sy knie sit nie. Sy wóú nie.

Maar die rooihefmes was mooi; dis lankal dat sy ’n knipmes begeer.

Mens hoef net tien minute te sit. Al is dit sleg. In die dag as die son skyn en daar is dálk iemand wat

kan sien wat jou pa doen, is dit anders as snags. Snags sit jy nie op sy knie nie; dan staan jý op jou knieë.

“Eina!” skree jy in die nag. Hard, sodat jou ma moet hoor. “Eina!” Dit brand waar hy met sy plat hand

teen jou kaal heup klap en sê jy moet stilbly. Hy sê dis die plek waar jou babatjies eendag moet uitkom,

en hy moet die gaatjie groot maak, anders gaan jou babatjies vassit in jou maag. Hy sê dis ’n pa se plig.

Jy wil nooit babatjies hê nie. Jy wil nie die gaatjie groter hê nie. Jy wil hê Bamba moet by jou voete

opkrul, en jou Lulu-pop moet in jou arm lê en jou ma moet hoor as jy roep. Niemand traak wat jý wil hê

Other books

Niebla roja by Patricia Cornwell
Simplicity Parenting by Kim John Payne, Lisa M. Ross
Emily Goes to Exeter by M. C. Beaton
TheSurrenderofLacyMorgan by Suzanne Ferrell
Road Closed by Leigh Russell
The Skulls by Sam Crescent