Authors: Annelie Botes
karsiek as hulle in die somer op die plaaspad ry. Om warrelend te dink, is ál manier wat sy ken. Om raas
te kry omdat sy vergeet het, of omdat sy wegglip in ’n wêreld van haar eie, is normaal.
“Gertruida?” roep Juffrou Robin saggies in sub A. “Kyk na my, Gertruida …”
Dis sleg om terug te kom klas toe waar sy móét inkleur en luister en in ’n ry staan. Dis lekkerder om in
haar gedagtes met Bamba tussen die rivierriete op Kiepersolkloof te speel. Hy blaf en hap na die water en
jaag die kolganse. Sy trek vir haar ’n huis in die sand met ’n riet. Die sandvertrek waar haar kamer is, het
nie ’n deur nie, ook nie ’n bed nie. Dan roep sy vir Bamba; hulle sit in die sandhuiskamer en eet droë
kraakbeskuitjies. Sy eet nie botter nie, want dit word snotterig in haar mond.
“Dis jou beurt om te lees, Gertruida. Kom,” sê Juffrou Robin en druk haar vinger onder die eerste
woord.
“Ek sal later lees.”
Die kinders lag. Hulle druk hulle neuse toe, en maak sagte woorde met hulle lippe, sodat Juffrou Robin
nie moet sien of hoor nie. Tergwoorde. Hulle sê sy stink en sy is dom. Sy wil hulle doodmaak.
“Nee, Gertruida, dis nóú leestyd.”
Toe lê sy op haar arms; knyp haar oë toe. Sy sál nie lees nie, want sy ken die boek uit haar kop. Sy wil
teruggaan rivier toe en in haar sandhuiskamer sit. Buitendien, dis lekker as Juffrou Robin so baie met haar
praat. Dit voel of Juffrou Robin haar liewer het as vir die ander sub A’tjies. As sy gehoorsaam is en lees
wanneer dit haar beurt is, hurk Juffrou Robin nie by haar en vryf haar rug nie. En sy praat nie sag en mooi
met haar nie. Maar as sy weier om te lees, pleit Juffrou Robin by haar.
Toe haar rapport aan die einde van die jaar kom, staan haar ma by die kombuistafel en huil dat die
trane in die bak met tjoklitkoekdeeg drup. Omdat sy dop.
“Is nie dop nie!” stry sy. “Juffrou Robin sê ek is slim! Ons moet net weer ’n keer deur die leesboeke
gaan. Juffrou Robin sê Andrea gaan óók weer …”
“Ek skaam my vir jou, Gertruida! Jy’s ongehoorsaam! Tot Matrone kla oor jy jou neus optrek vir die
koshuiskos, en oor jy bed natmaak. Jy’s ’n groot dogtertjie, maar jy gedra jou soos ’n baba wat …”
“Dissie waar nie! Dis oor daar in die nagte ’n likkewaan in die koshuisgange loop, ek het hom sélf
gesien, en hy slaan kinders dood met sy stert en eet hulle.”
“Twak, Gertruida! Jy maak al weer stories op! Ek sweer, as Matrone weer kla, gaan ek weggooidoeke
koop wat sy snags vir jou …”
Toe druk sy haar vingers in haar ore en hardloop uit die kombuis uit. Rivier toe. Niemand hoef te weet
dat die plaas se likkewaan snags tot op die dorp loop en by die koshuis inkom nie. As sy tjoepstil in haar
bed lê, hoor sy hoe maak hy keelgeluide in die gang. Matrone sê dis die warmwaterpype wat so maak,
maar Matrone jok.
En niemand hoef te weet sy is bly dat sy dop nie, want nou hoef sy nie weer saam met die kinders te
wees wat tergwoorde maak nie. En as sy nie wil lees nie, sal Juffrou Robin weer by haar hurk en mooi
vra sy moet asseblief lees. Sy hou van Juffrou Robin.
In haar tweede sub A-jaar het die oom die Maandag skool toe gekom en sy moes by hom in die
skoolbiblioteek prentjies teken en legkaarte bou en somme maak. Juffrou Robin het gesê dis die
skoolsielkundige, Meneer Niemand. Sy het nog nooit só ’n van gehoor nie. Hoe kan mens iemand wees as
jy niemand is?
Sy was nie bang dat Meneer Niemand sy vinger in haar sal opdruk nie, want haar ma was heeltyd by.
Langs die plaaspad het haar ma gesê sy moenie vir die oom vertel van die bednatmakery en die
nagmerries nie. “Mens praat nóóit met ander mense oor sulke goed nie, Gertruida. Nie eens met jou beste
maatjie nie.”
“Ek het nie ’n beste maatjie nie. Ek het glád nie maatjies nie.”
Sy het al baie kere vir haar pa-hulle gevra of sy ’n maatjie kan plaas toe bring vir die naweek. Dalk sal
iémand by die skool van haar hou. Maar elke keer sê haar pa nee. As sy vir haar ma vra, sê haar ma sy
moet na haar pa luister, want hy is die hoof van die huis en hy weet altyd die beste.
Snags, as sy sê sy kry seer, sê haar pa ook dis alles vir haar eie beswil.
Dit was lekker by die sielkundige-oom. Sy het gewens Juffrou Robin kon hoor hoe mooi sy lees.
Antwoord elke som dadelik. Sy wou vir hom wys hoe vinnig kan sy ’n legkaart bou. Maar elke keer as hy
opstaan en sy sien die rits van sy broek, ruik die biblioteek na sardiens en dit klink of iemand die
deurknop wikkel. Dan kan sy nie tel of inkleur nie. Dan lê sy op haar arms tot hy weer sit. Haar ma sê vir
die sielkundige-oom dis van Anthonie se dood af dat sy só is.
Dis ’n jok.
Haar ma sê vir die oom goeters wat sy nie goed verstaan nie, maar dit klink of haar ma aan haar kant
is. Haar ma sê sy wil haar kind beskerm teen ’n onnodige gegrawery, van genoeg tyd wat moet verbygaan,
en dat sy nie wil hê haar kind moet onnodig geteiken word nie.
Teiken? Dit klink of iemand haar wil skiet. En haar ma keer. Dankie tog.
Die Sondag kry hulle mense vir middagete. Sy sit in die donker onder die tafeldoek in die
ontbythoekie. Niemand sien haar nie, dan kan sy die grootmense afluister. Haar ma en Andrea se ma sit by
die kombuistafel en rasper wortels en sny pynappelblokkies. Haar ma sê die sielkundige sê dis Anthonie
se dood wat die probleem is.
Dis ’n jok, die oom het nooit so gesê nie.
Haar ma vertel vir Andrea se ma ’n klomp jokke oor wat die oom gesê het. Maar sy weet hy het nooit
so gesê nie. Oor groen en rooi koeldrank wat sy nie mag drink nie, want dit gaan haar uit die slaap hou.
Oor ’n blaasinfeksie, en oor haar verbeelding wat op loop gaan. Maar haar ma sê nie hoe glad sy gelees
het, en dat sy nie één keer oor die lyne ingekleur het nie.
“Ja, Susarah,” en die tannie sug, “ons sal nooit verstaan hoe Anthonie se dood haar geaffekteer het nie.
Sy het hom aanbid. Andrea se probleme kom van ’n moeilike geboorte. Tangverlossing. Te min suurstof.
Sy was ’n tiendpondbaba.”
Sy bêre die moeilike woorde in haar kop, omdat sy lief is vir woorde. Suurstof. Tangverlossing.
Tienpondbaba. Daar is groot woorde wat sy nie verstaan nie. Allergies, terapie, geneties, trauma,
masturbasie. Maak nie saak nie, solank sy dit bêre. Partykeer haal sy die woorde uit, sê hulle saggies oor
en oor, sodat net haar tong roer in haar mond. Snags as daar lelike goed in haar kamer gebeur, sê sy dit
aanhoudend. Dan vergeet sy ’n bietjie van die seer en die sardiensreuk, en sy verdwyn uit haar eie lyf en
word iemand anders.
Dis lekker om iemand anders te wees. Dan is sy nie soos Meneer Niemand wat niemand is nie.
Allergies Strydom het deurskynende vlerke en kan tot teen die wolke vlieg. Terapie Strydom maak ’n
geel-en-rooi houtbootjie en roeispane, en ry op die rivier tot by die see, bo-oor krokodille en
riviermonsters. Geneties Strydom is Gouelokkies se beste maatjie. Hulle pluk giftige sampioene in die
woud en voer dit vir Sneeuwitjie se stiefma. Trauma Strydom is die kamermeisie wat Doringrosie se hare
kam terwyl sy slaap. Masturbasie Strydom speel altyd baas. Sy hou nie van Masturbasie Strydom nie,
want hy maak haar seer.
Waar sy haar op haar elmboog stut, sien sy aan die voet van die berg, oorkant die rivier, hoe krul die rook
uit die skoorsteen van Mama Thandeka se huis. Nou is net sy en hulle en OuPieta en sy vertraagde
Pietertjie oor op Kiepersolkloof. Al die ander werkershuise staan lankal leeg. Abel het gesê die wet
maak dit onmoontlik om permanente werkers in diens te hou. Maar Mama Thandeka en Mabel en OuPieta
en Pietertjie het blyreg.
OuPieta help op die werf met Susarah se tuin en die groentetuin, die hoenders, saans se melkery. Maar
hy is oud en staan einde toe. Pietertjie is al in sy laat veertigs; tot weinig in staat. Al waarmee hy goed is,
is sing en jelliemannetjies eet. Wat van hom sal word die dag as OuPieta doodgaan, was tot Sondag Abel
se probleem. Nou is dit hare. OuPieta moenie doodgaan nie. Hy is vir haar meer van ’n pa as wat Abel
ooit was. Saans saam met hom eiers uitgehaal toe sy klein was. Neem haar rooi bekertjie kraal toe met
melktyd. Hy skep vir haar warm melk. Maar later het sy begin walg vir melk.
Sy moet hom ’n slag dokter toe neem vir ’n ondersoek. Mama Thandeka ook.
Alle ander arbeiders wat hier kom, is kontrakwerkers. Draadspanners, snoeiers, beeswerkers,
damstoters, tuinarbeid. Abel het hulle laat aanry soos hy hulle nodig kry. Behalwe vir OuPieta, was s´y
Abel se werfhand. Daar is niks wat sy nie kan doen nie. Water lei, melk, soutlek uitsit, grensdrade
nagaan, slagysters stel vir die muskeljaatkatte. Skaap slag. Maar Abel het die skape verkoop. Gesê dis
goedkoper om by die slaghuis te koop, omdat hy kaalgat gesteel word.
Abel het haar mooi geleer.
“Ons moet haar met iéts besig hou,” het sy hom vir kuiermense hoor vertel, “siende dat sy nie
selfstandig genoeg is om universiteit toe te gaan, of oorsee te gaan werk nie. Maar ek en Susarah gee nie
om nie, ons is bitter lief vir haar.”
Niemand sal haar glo as sy vertel hoe mooi hy haar geleer het van ’n ander soort hande- en lyfarbeid
nie.
Die enigste mense wat Abel en Susarah se ware aangesigte ken, is Mama Thandeka en Mabel. Maar
niemand sal húlle glo nie.
Mama Thandeka en Mabel het immers mekaar, en hulle is lief vir mekaar. Anders as sy en Susarah wat
heeltyd kopgestamp het. Van nou af is sy alleen in die huis. Maar nie eensaam nie. Vir die grootste deel
van ses-en-twintig jaar begeer sy om alleen te wees. Geen vloerplank of deurknop te hoor nie. Dalk het
die koedoe haar gered van tronkstraf, want die dag was naby dat sy hulle elkeen ’n doodskoot in hulle
slaap sou gee.
Die telefoon lui in die huis. Dit moet maar lui. Sy wil met niemand praat nie.
Die vleipaddas raas. Haar maag gor. Sy het vandag nog niks geëet nie. Nie eens tee gedrink ná die
begrafnis nie. Heeltyd padgegee van al die hande wat jammerhartig oor haar bo-arms vryf. Sy gru as
mense aan haar raak.
In haar haas om die kennisgewingbord op te sit en die hek te sluit, het sy die bakkie in die waenhuis
getrek en die winkelsak met brood, tamaties, boeliebief, lemoene en Mariebeskuitjies op die sitplek
vergeet. Mama Thandeka se medisyne en OuPieta se suiker en jelliemannetjies ook. Sy sal dit later kry.
Sy wil haar eie kos hê. Die kos in die huis is vuil. Dalk moet sy by Mama Thandeka gaan roosterkoek
vra.
Toe Mabel vanoggend ná sonop met die wasgoedmandjie vol wildekastaiingblomme op haar kop op die
werf aankom, het sy gesê sy laai net af, dan moet sy huis kry, want daar staan ’n kniesel en rys.
“Is jou ma se bors beter, Mabel?”
“Nee. Daar’s reentweer aan’t kom. Mama het in die nag beginte hyg. Kos my in die middel van die nag
haar rug sit en vrywe met Vicks. Jy moet asseblief borsdruppels bring, ons s’n lê onder kwart. Roulynolie
en Turlington ook. En OuPieta vra suiker, en lekkers. Hy sê vandat Pietertjie se lekkergoed eergister
opgeraak het, sing hy eenstryk ‘Ek soek na my Dina’, tot in sy slaap, en dit dryf hom terug na
turksvyskonfaan toe.”
“Wil jy nie maar saamgaan begrafnis toe nie, Mabel? Ek ry eers tienuur, daar is genoeg tyd om …”
“Vergeet dit, Gertruida. Ek gaan nie met valse groetnis in die huis van die Here sit vir ’n man vir wie
ek nikse respekte het nie. Ek is bly ek hoef nie vandag die gesig op te sit wat jy moet opsit nie.”
“Gaan saam, toe?”
“Nee. Ek moet loop hout optel voor dit reent. Ek wou net blomme pluk vir afgooi op die kiste. Oor ek
lief was vir jou ma. Sy’t my baie goeters geleer.”
“Jy’s gelukkig, Mabel. Sy het nooit moeite gedoen om mý …”
“Dit lieg jy, Gertruida! Sy’t opgegee oordat jy haar weggedruk het. Jy wóú niks by haar leer nie. Sy’t
my geleer,” en Mabel het teen die wasgoedmandjie gedruk met haar voet, “waar die wildekastaiings
uitspatlik blom, is valse rykdom. Dik beursies, dun harte. Jou ma was ’n goeie vrou, Gertruida, maar jou
pa …”
“Hy het dit darem in hom oorgehad om jou en jou ma lewensreg te gee in julle huis, en hy …”
“Lewensreg? Ja, Gertruida, hy hét my die lewe gegee. Toe Mama al oorkant van veertig was, en hy ’n
snotkop van ses-en-twintig. Hy skúld my en Mama die lewensreg. Ek loop nou. Moenie die borsgoeters
en suiker en lekkers vergeet nie.”
“Ek wil jou ’n guns vra, Mabel. Sal jy in die huis ingaan en my swart langbroek en my wit
langmoubloes hiernatoe bring? My swart skoene …”
“Vaderland, Gertruida, jy kan mos die klere self loop haal!”
“Ek wil nie in die huis ingaan nie.”
“Nou waar’t jy die laastere drie nagte geslaap as jy nie in die huis geslaap het nie?
“Jy spaai mos oral, jy weet goed ek het in die kliphuis geslaap. Bring ’n skoon bra en pantie ook. En
my haarborsel.”
“Vaderland, Gertruida, dink jy miskien dit spook in die huis?”
“Nee. Dit spook nie; dit stink.”
“Ek het laastere Vrydag skoongemaak, na wat kan dit nóú staan en stink?”
“Dit stink na Abel en Susarah. Gaan haal assebliéf die goed vir my?”
Mabel het die goed gebring. “Jy moet jou hare was, Gertruida. Jy kan nie met so ’n vaal kop begrafnis
toe nie. Ek loop nou. Jy moet sterk staan vandag.”
Mabel was al verby die laventelheininkie toe sy haar inhaal. “Dankie, Mabel, vir die blomme. En vir
…”
Toe steek Mabel haar arms uit. Hulle staan omgewe deur die geur van gekneusde laventel. Halfsusters
uit die saad van dieselfde man.
“Gooi ’n moerse klip op sy kis, Gertruida, en sê ek sê dankie vir die lewensreg.”
Sy sit regop. Haar hande is blou van die koue. Die nat broek ets haar maerheid af.