Authors: Annelie Botes
hoender se vlerkbeentjies. Samuel eet sy rys met ’n lepel. Ek druk rysklontjies en eet met my vingers.
Dit maak nie aan ons saak dat ons van verskillende mense kom nie. In onse harte is ons eenderste. As
ons mage dik is en onse ooglitte raak slap, gooi Samuel die vuur dood, en ons kry kooi.
So seer soos my hart is, troos dit my om te weet Abel en Samuel rus tussen die sterre. Seker is iNkosi
die tata wat waghou oor sy sterretjinners. Daar’s baie sterretjinners oor wie ek in die nagte dink. Ek vra
vir iNkosi of hulle siele geverander het in dowwe sterre, of helderes. Dan lê ek in die donkerte en
wonder.
Eerste van almal oor myselwers. Sal my goedkant in die hemel blink, of my dofkant? As Mabel vol
maandbeneuktheid is, sê sy my ster sal dof skyn.
“Oordat Mama met Abel geloop lê het.”
“Is lank terug se dinge, Mabel …”
“Maar hy kom nog steeds hier by onse huis nes hy lus het, en Mama gee hom altyddeur bossietee of
warm kaiings.”
“Hy kom nie hier van lushê nie, Mabel, hy kom sit hier by my en gesels op dae as hy allenig voel in die
wêreld.”
“Laat ek loop fynhout optel, voor ek my erg oor Mama altyd opkom vir hom.”
Mabel het ’n gladde bek op haar. Is waar, as ’n tjint skool loop, kom hy êrenster. Samuel het gesê die
meeste van sy Bonsmara-geld moet eenkant gesit kom vir Mabel se gelerendheid. Mooi skool geloop by
Missus Magriet se skool tot standerd vyf. Abel het haar elkere dag gekarwei. Of Ou-Pieta. Die tyd toe sy
klaarmaak met standerd vyf, sien ek nie kans dat sy in die dorpslokasie moet loseer en met Satan
deurmekaar raak nie.
Is net mooi in daardie tye dat Missus Magriet se man dood is van ’n gebarste kopaar. En Missus
Magriet se hande moes oralster raakvat. Toe kom sy tot hier by onse huis en sê sy’t ’n hand nodig met die
klein tjinnertjies by die skool, en of Mabel nie kan kom uithelp nie. Sy sal ’n assistent wees, sê Missus
Magriet, en sy mag mooimaakgoed aan haar gesig sit. Cutex ook. En Missus Magriet sal vir haar vyf
eenderste navy blue outfits en plat skoene koop vir elke dag se dra, sodat sy stylvol is. Want dan sal die
skooltjinners nie met haar mors nie.
Twee jare verder, in 1992, toe vat die witskool op die dorp bruin tjinners. Mag tot in die koshuis bly.
Ek het swarigheid gesien. Maar Abel het gesê hy betaal als, Mabel móét dorpskool toe. En hy sal betaal
as sy agter matriek wil loop leer vir ’n prokureur of ’n dokter. Maar daardie tyd toe raak ek sestig en my
bene is swak. Toe sê Mabel sy loop net skool tot by standerd nege, dan kom sy oorvat in Kiepersolkloof
se huis, en sy kom my oppas.
Mabel het nie dom of agter in die dorpskool beginte nie, want Missus Magriet was ’n goeie juffrou.
Naaldewerk, skoolkonsert, atletiek, resitasies wat sy die tjinners geleer het. Al ding wat Missus Magriet
verkeerd gedoen het, was om die tjinners te maak praat soos sy praat. Hulle moenie sê “beterder” en
“losserder” en “gevergeet” nie. Hulle moet hulle lippe rond maak vir “fluit” en “snuit” en “ruit”. Smiddae
staan Mabel onder die peperboom en sy lyk alte komieklik as sy oefen om nie te sê “flyt” en “snyt” en
“ryt” nie.
Dit pla my daardie tyd, dié anderster pratery. ’n Hoender bulk nie soos ’n bees nie; ’n bees kekkel nie
soos ’n hoender nie. En as jy gedruk word om te bulk wanneer jy hoort te kekkel, raak jou geluide
naderhands deurmekaar. Sodat jy nie wis of jy ’n eend is wat sis nie, of ’n slang wat kwaak nie.
Sleg vir mens se gedagtes. Ek weet. My naam is nie verniet Thandeka Malgas nie. Iewerster in my
dinkgoed en weetgoed het klomp goeters deurmekaargeskommel. My tata en mama se geluide. Samuel s’n.
Kiepersolkloof s’n. Ons almal maak anderster in onse huise, en in my huis was drie huise se maniere en
prate saamgedruk. Die bloed in Mabel se are is hoeka soos twee kleure verf wat in een blik omgeroer is.
Ek wil nie hê dat sy latertyd nie weet hoe mag sy praat en nié praat nie. Sy moet weet wie’s wit en wie’s
swart en wie’s bruin. Is nie dat die een beterder is as die ander ene nie. Net anderster. En sy moet
verstaan om respekte te hê vir mense se andersheide.
Ewentwil. Só leer Missus Magriet hulle om te “fluit” en te “snuit” en te “ruit”.
Een Saterdag, die tyd toe Mabel in standerd een is, loop ek Bosfontein se winkel toe vir huisgoed. Dit
was kort agter Samuel se heengaan, en heelpad soontoe voel ek ’n droefte oor hom. Ek dink aan die
Saterdae toe ek Trading Post toe geloop het vir my mama se kosgoed en vinnig geloop het om bietjie
langer na Samuel te kyk waar hy staan en somme maak en afweeg. Ek hoor hom sê: Thandeka, jy’s die
mooiste klimeid hierdie kant van die berg.
Ek sê daardie dag vir Missus Magriet daar’s iets waaroor ek wil praat. Ek sal wag tot toemaaktyd,
oordat die winkel besig is. Ek sit op die houtbank voor die winkel tot sy toesluit. Sy sit langes my op die
houtbank. Ek sê wat ek wil sê oor die anderster pratery.
“Thandeka,” sê sy, “dis ’n kwessie van behoorlike opvoeding.”
“Jirre, Missus Magriet,” laat val ek iNkosi se Naam ydelik, “wie’s ons om te sê waffer opvoeding is
’n behoorlike ene?”
“Thandeka, die wêreld verander en dis my plig …”
“Raak hy miskien beterder, Missus Magriet?”
Ons twee sit tot agter donkertyd op die houtbank. Naby mekaar, oor die aandwindjie koel raak. Ons
praat oor die deurmekaarheid in mense se koppe. Nie net vandag se dag nie, nog al die jare vandat die
aarde gemaak is. Adam en Eva wat in ’n paradystuin gebly het, toe raak hulle sondig oor ’n slang wat ’n
lieg kom verkoop het. Tuin daarmee heen. Vrede daarmee. Goddeloosheid vat oor.
Ek en Missus Magriet kry nie antwoorde vir al die goeters nie.
Ek haal ’n pakkie wit suiker uit my winkelgoed en gee dit vir haar. Om soetigheid te bring in haar tee.
Sy sluit die winkel oop en bring vir my ’n pakkie bruinsuiker vir my oatspap.
“Dankie, Thandeka,” sê sy, “dat jy my vandag iets geleer het.”
“Dankie, Missus Magriet,” sê ek, “dat ek kan weet hier’s vir Mabel ’n kans vir gelerendheid op
Bosfontein.”
Sy’t my met die bakkie huis toe gevat. Halfpad kom Samuel in die bakkie se ligte aangedrawwe, op
soek na my.
Snags as ek vir iNkosi vra hoe gaan dit met die geeste van my mense by die plek waar ek ’n intombi was,
dan wonder ek oor hoekom Mabel so ’n teensin in Abel het. Want hy’s goed vir haar, nes hy op baie
maniere vir Gertruida goed is. Dan wonder ek of Mabel nie in haar verste hart kwaad is oor Abel nooit
daarvan gepraat het dat sy sy tjint is nie. Is op ’n manier maar dieselfde as eenkant toe stoot.
Sy’t altyds gesê as sy by mondigtyd kom, gaan sy haar naam laat verander op die regering se boeke.
Sommer Charlene of Cindy-Ann. Tot Mietjie sal beterder wees as Mabel. Mabel is net Abel met ’n M
vooraan. Maar tot vandag hou sy nog haar naam.
Ek wis dit was vir Mabel ’n uitkoms om terug te kom Kiepersolkloof toe. Die vier jare toe sy op die
dorp skoolgeloop het, had sy swaar onder die wit tjinners. Oor sy een van die minnerige bruin tjinners in
die skool was. Daar’s nie gal in my daaroor nie, want ek het geweet dit sal so wees. Mens kan nie jare in
aparte kampe wei en op ’n dag in vrede in een kamp saamloop nie. ’n Trop is ’n trop, elkere een baklei
vir sy trop. Hoekom mag die wit tjinners nie baklei vir hulle trop nie?
Kyk hoe het my en Samuel se mense gebaklei vir onse troppe. Van waffer tyd af kan ons sê die reg om
te baklei hoort net aan ons? Ek hoor als wat die draadloos en die televisie sê van reentboogmense, maar
ek wis nie of hulle verstaan ’n mens kan nie die kleure uit die wolke gryp en bymekaar druk en dan sê jy’t
’n reentboog gemaak nie. Want ’n reentboog maak homself.
Die eintlike ding wat gemaak het dat die wit tjinners nie van Mabel gehou het nie, was oordat sy
knaenddeur opgekom het vir Gertruida. Hoeka was Gertruida een wat eenkant toe gedruk is deur haar
maters. Wys jou net, al is Abel skatryk en al kom speel hier hogere mense tennis, kan Gertruida netsowel
’n bruin vel oor haar lyf gehad het, soos sy weggestoot is. Mabel klap en skel onder hulle. Min dae dat sy
nie moeilikheid by die skool of koshuis gehad het nie. Al was Mabel ook wit soos ’n vleilelie, sal dit
dieselfde gewees
het.
Maar sy kyk mooi agter my.
Bedags sit ek hier by onse huis en kyk hoe die son opkom en ondergaan. Ek dink: Is tyd dat Mabel ’n
man vat en getroud kom, sodat daar tjinners gebore kom om haar op te pas as sy by haar oudag kom.
Ek wil gehad het sy moet ’n nurse word wat met die kliniek se kombi plase toe ry. Maar nousedae loop
die kombi ampers nooit. Oor die petrol op is. Of daar’s nie medisyne nie. En oor die kloof se plase stil
geraak het van mense. Is net ons oumense wat nog oor is, en ons sal hier doodgaan. Tot Missus Magriet se
skool moes gesluit word, oordat die goewerment sê daar’s te min tjinners om die kloofskool oop te hou.
Buiten dit allester het Mabel nie ’n dryfliksens nie. Sal ook nooit een kry nie.
Gertruida hét haar geprobeer leer met die wit karretjie, die tyd toe Missus Susarah saam met Abel
annerland toe was vir ’n volle maand. Mabel kon al mooi op en af ry tussen die werfhek en die
laagwaterbruggie. Maar toe kom hulle eendag by die hek en Mabel gee vet in pleks van briek trap. Ploeg
met die wit karretjie deur Missus Susarah se clivias, bo-oor die yesterday-today-and-tomorrow, tot
binne-in die grootblaardrakebome wat onder die sederboom groei. En Gertruida wil haar doodlag. Van
daardie dag af wil Mabel nooit weer agter ’n stuurwiel ingeklim het nie.
Nou bly ek aan’t wonder: Hoe gaan dit in die hart van my tjint met die blou oë?
Abel is my ander tjint. Al het ons saam-saam ’n tjint, is hy nooit my man gewees nie. Is swaar; my tong
wil nie meer oor daardie tyd praat nie. Maar ek sien hom nog soos toe hy klein was, mooi soos ’n
meisietjintjie. Ek het hom geabba en sy matras teen die muur by die putlewwetrie laat droogwôre. Ek was
getuie hoe breek die ouman sy seun se bene. As ’n mens se bene eers een maal gebreek was, loop jy al jou
jare kruppel. Ek wonder of iNkosi ’n mens se bene weer aanmekaarlas as jy ’n sterremens word?
Hoekom het Abel se broers nie sy gees kom groet toe hy afgesterf het nie? Seker oor hulle wou stik van
kwaad oordat Abel Kiepersolkloof geërwe het. Abel het gesê sy pa het gebetaal vir sy broers se
gelerendheid en hy’t vir elkere een ’n kar en ’n huis uit sy gatsak gebetaal. Hy’t nie sulke goeters gekry
nie, net Kiepersolkloof. Toe wérk hy hom ryk op Kiepersolkloof.
Is tóé dat wit broer teen wit broer beginte draai.
Dalk sal hulle met anderster oë na hulle ryk broer gekyk het, as hulle geweet het hoeveel geld Missus
Susarah knaend bysit uit haar erfgeld. Sy sê niemand, behalwe ekke, hoef te weet hoedat sy
Kiepersolkloof mooi maak nie.
Vannag moet ek stillê, sodat die kooi nie kraak nie. Mabel is moeg. Heeldag gedrawwe tussen die
kiepersol en onse huis en die honeysuckle-heining. Wil nie vir Gertruida alleen los nie.
Skaars het sy die hokhaantjie se nek afgekap, nog nie beginte vere uittrek nie, toe loop spaai sy eers. Is
toe dat sy haarselwers bewekniekoppe skrik, want Gertruida gooi al die eiers in die mandjietjie teen die
spieëlkas wat by die trap lê. Mos gerekent Gertruida se kop is uitgehaak. Toe bel sy Missus Magriet op
die selfoon om te sê hier’s nood op Kiepersolkloof.
Nie lank nie, toe kom die bakkie aangejae. Mabel staan gekoes agter die honeysuckle-heining. Sy sê
Gertruida sluit nie die hek oop vir Missus Magriet nie; praat bo-oor die hek. Toe Missus Magriet wegry,
kom die rus oor my. Want sy sou nie gery het as sy gewis het Gertruida se kop is uitgehaak nie.
Ek wonder waar slaap Gertruida vannag. Mabel sê sy’s nie kliphuis toe nie, en haar kooi lê voetjies
boontoe op die roosmarynbos. Mabel sê Missus Susarah sal regop kom in haar graf en die grond oopstoot
om uit te klim as sy moet weet hoe lyk haar voortuin. Sy wat Mabel is, het daardie roosmarynbos gehelp
plant. Toe leer Missus Susarah haar dat roosmaryn staan vir nagedagtenis en genade.
Of Missus Susarah stories opmaak, wis ek nie, maar sy’t vir Mabel gevertel van die goedheid van ’n
roosmarynbos. Glo al in die Bybeltye ’n bos van genade gewees. Want toe die familie van die Liewe
Here Jesus weggevlug het uit Egipte, het al die bosse langes die pad geraas gemaak as die Familie teen
hulle skuur, sodat die vyande kon hoor waar hulle loop. Net die roosmarynbosse het stilgebly, sodat die
Liewe Here se mense veilig kon verbykom.
Mabel sê Kiepersolkloof se tuin is nie net ’n mooilyktuin nie. Missus Susarah het elkere ding geplant
met ’n boodskap in haar vingers. Die Carolina-roos sê die liefde is gevaarlik. As hy blom, moet jy jou
woorde tel. As jy pronkertjies plant, moet jy weet iemand gaan weg, straks jyself.
Juis in hierdie dae van dood, beginte die eerste pronkertjies blom. Mabel sê daar’s twee wittes. Het
Missus Susarah ’n gevoelte gehad sy gaan weg, en Abel saam met haar?
Elkere jaar is ’n bedding sonneblomme voor Abel se kantoorvenster geplant; omdat dit beteken jy hóú
jou ryk. Om die rand van die sonneblomme is stinkafrikaners geplant, want dit help teen vieslike
gedagtes. Eendag is ek so hartseer gewees toe Mabel sê hulle het ’n Virginia creeper geplant, en Missus
Susarah sê dit beteken: “Ek hou aan twee mense op een tyd vas, dwarsdeur sonskyn, dwarsdeur skadu”.
Daardie aand het ek twee keer met my notsungstok buitentoe gesukkel om vir Missus Susarah te bid. Want
ek had ’n inniglike jammerte vir haar.
Twee mense.
Abel. Gertruida.